Showing posts with label Afrikaanse berigte/artikels. Show all posts
Showing posts with label Afrikaanse berigte/artikels. Show all posts

Saturday, 24 October 2009

BESOEKE AAN BEGRAAFPLASE IN JOHANNESBURG-SUID


Deur John Stephens, taksekretaris
Addition by Penny Evans

Die afgelope Saterdag, 17 Oktober 2009, was dit die plan van die tak om sekere begraafplase in die suide van Johannesburg te besoek en data op te skryf. Die weer het egter ‘n stokkie daarvoor gesteek. Ek het 34 mm gemeet. Dit het emmersvol geval.

Lucas, Barbara en Penny was egter net ‘n kortkop voor die reën by die Turffonteinse Konsentrasiekampkerkhof in Mondeor. Terwyl hulle nog die name op die monument beskou het, het die reën hul daar oorval. Lucas kon darem foto’s neem van die steentjies wat in die muur ingebou is.

Hierdie name is nooit op die monument aangebring nie en verskyn dus ook nie op die Genootskap se begraafplaas-CD nie. Daar is onder andere ses Bekker-kinders wat almal in die konsentrasiekamp gesterf het. Vier het in een maand gesterf, naamlik, Mei, een in Julie en nog een in Desember.

Hierdie begraafplaas ag ek as die grootste tragedie wat Johannesburg beleef het. Meer as 700 kinders en vrouens is daar begrawe. Die jongste baba wat daar begrawe is, was net een dag oud.

As gevolg van die reën het tien van ons toe by ons huis byeengekom waar ons oor die verskillende begraafplase gesels het.

Op Eikenhof is ook die familiekerkhof waar Danie Theron, die grootste boerespioen, begrawe is. Hier is egter ‘n sootgelyke probleem. Die begraafplaas word op die CD aangedui, maar sedert dit opgeneem is, het baie nuwe begrafnisse daar plaasgevind. Dieselfde geld ook vir die familiebegraafplaas op Misgund.

Op Elandsfontein is ‘n familiebegraafplaas wat nog pgeneem moet word, asook op Muldersrus en Hartzenbergfontein. Volgende jaar sal ons weer so ‘n poging aanwend.

Op Hartzenbergfontein staan ‘n klein monumentjie ter ere van Willem Jacob Kamffer.

That's dedication

Penny Evans writes: The photos I took were not great as one photo was taken while I stood in the rain (I did not waste time getting back to the car as there was lightening striking in the nearby hills), the other one was of the granite slab and unfortunately the flash reflected off the shiny granite. Lucas tried with his camera as well and had the same problem. Bob kindly offered to see if he could get rid of the shiny flash reflection. This was fairly successful. I am sending the photos to you for your interest.


TURFFONTEIN

150 YEARS
Click on a photo to enlarge.

Despite being rained out, John gave the talk in his lounge. We had refreshments (first time I have had green tomato jam made by Iris, John's wife) and were able to socialize at leisure. John put in a lot of effort by preparing notes about the concentration camp.  This included the surnames of the women and children buried there. Iris made sure we did not go hungry.

Tuesday, 11 August 2009

BAIE URE SE KYK HIER

sagenealogie.com of sagenealogy.com.
(Klik op een van bostaande.)

Neem kennis van voorgaande. Dis ‘n hulpmiddel soos min vir Suid-Afrikaanse genealoë.

Dennis Pretorius (regs), die skepper hiervan skryf op die tuisblad:

“SAGenealogie is 'n wêreldwye genealogiese gespreksgroep op die Internet met Afrikaans as voertaal. Dit bestaan tans uit amper 800 vriendelike en hulpvaardige genealoë van rondom die aardbol wat wissel van beginners tot gesoute en selfs professionele navorsers in sy geledere”.

Dié webtuiste bevat ‘n magdom inligting. Kyk net:

  • ‘n Foto-databank met honderde interessante en insiggewende foto’s – van ABO-foto’s en kerke in ‘n rits dorpe tot begrafnisbriewe en ou vervoermiddels.
  • Dit is ook die vertrekpunt vir nuwe lede van SA Genealogie-gespreksgroep waar lede (let wel daar is amper 800) mekaar onder meer help om hul voorsate op te spoor.
  • Dit bevat ‘n reeks beproefde genealogiese skakels.
  • Verskeie lede se webwerwe is te sien.
Diegene wat nog nie met dié webwerf kennis gemaak het nie, het ‘n hele paar ure se ontginningswerk wat wag.

Onder: Een van die ongewone foto's op SAGenealogie se foto-databasis. Zeederberg se Sebra-span op Pitersburg gereed om die pad na Leysdorp (1881). Foto: H Exton-versameling.


Piet Roets het vir Doel Zeederberg die idee gegee om Zebras mak te maak en te gebruik weens skaarste van perde en muile. In 1881 het Jacob Erasmus zebras gevang en hulle op sy plaas in Leydsdorp geteel. Roets, wat naby Haenertsburg geboer het, en Izak van der Merwe van Pietersburgdistrik het sy voorbeeld gevolg. Hulle het daarin geslaag om kwaggas mak te maak, te teel en selfs 'n ploeg te laat trek. Roets het van sy mak kwaggas aan Doel Zeederberg aangebied en tot sy verbasing het Doel sy aanbod aanvaar en 20 diere van Roets gekoop vir £200. Hulle spoed oor kort afstande was vinniger as die van 'n perd of muil, maar hulle het stamina kortgekom en 'n goeie perd kon hulle binne tien minute flou hardloop.

Bron: Neem uit die Verlede (Nasionale Parkeraad van Suid-Afrik). Dr U de V Pienaar, "Transportpaaie", p. 273

Monday, 22 June 2009

DIE NUWE e-SAGI MET 'N HALF MILJOEN PERSONE SE DATA IS HIER

DIS HIER:
Die nuwe e-SAGI (weergawe 5) met 'n half miljoen persone se besonderhede en koppelings.

DIE PRYS:

  • R150 plus R10 posgeld (in Suid-Afrika) = R160.
  • Persone wat 'n vorige weergawe gekoop het, betaal slegs R120 plus R10 posgeld (in Suid-Afrika) = R130.
SLEGS OP DVD

Dis slegs op ‘n DVD verkrygbaar, omdat die databasis so groot is. Dit kan nie in twee of meer CD’s “opgebreek” word nie.

WAT IS e-SAGI?

e-SAGI staan vir “elektroniese Suid-Afrikaanse Genealogiese Indeks”. Dit is 'n projek van die Wes-Gautengtak van die SA Genealogiese Genootskap. Lucas Rinken is die man wat die projek begin het. Hy het letterlik duisende ure reeds hieraan bestee. Dit bevat genealogiese besonderhede van 500 000 mense, maar dit het ook koppelings na hulle voorouers en families. Teen bogenoemde prys is hierdie inligting vir 'n genealoog 'n winskoop duisend en 'n hulpmiddel soos min. Die opbrengs uit verkope gaan na die tak.

GOEIE RAAD

Vir diegene wat nie ‘n DVD-speler in hul rekenaar het nie, het Dennis Pretorius die volgende raad:
  • Koop die DVD;
  • Vra iemand wat ‘n DVD-speler het om dat na ‘n geheue-stokkie (memory stick) te kopieer;
  • Kopieer die databasis van die geheue-stokkie na jou hardeskyf.
Geheue-stokkies is by enige rekenaarwinkel verkrygbaar. Die pryse sal uiteraard wissel. Dit sal in die omgewing van R120 vir 'n 2 GB- of R180 vir 4 GB-stokkie wees. Eersgenoemde is meer as genoeg. Andersins leen een by 'n vriend.

BESTEL SÓ

Bestellings kan by Dennis geplaas word. Sy epos-adres is krugersdorp@pixie.co.za. KLIK HIER en stuur nóú 'n epos aan Dennis.

VORIGE BERIGTE

Inigting oor die aard en omvang van e-SAGI is te sien deur HIER TE KLIK. Gaan af na die opskrif: "400 000 Persone se Data". (Let wel: Die syfers wat in hierdie berig word, is verouderd. Soos hierbo berig, het die aantal persone intussen na 500 000 gestyg.) Lees ook HIER.

Friday, 22 May 2009

500 000 IS OM DIE DRAAI

Net 9 000 om te gaan. Dan’s hy by 500 000.

Dis Lucas Rinken (links) se e-SAGI (elektroniese Suid-Afrikaanse Genealogiese Indeks) – ‘n projek van die Wes-Gauteng-tak van die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika.

Lucas is al jare lank besig met dié databasis. Menige genealoog het al sy soektog na voorouers met behulp hiervan beëindig.

Met inligting wat hy van oral in die wêreld kry, het Lucas veral in die afgelope klompie maande die databasis vinnig laat groei. In September 2008 het dit die data van 400 000 bevat. Binne agt maande het dit met 100 000 gegroei.

Hy het dit reggekry met ‘n aantal helpers wat hom getrou bygestaan het.

Een van sy groot uitdagings is om duplikate deur te werk. In die jongste paar weke was daar nie minder as 5 176 sodaniges wat hy moes bekyk.

“Ek was dikwels naby aan tou opgooi. Dis sieldodende werk om paar na paar deur te werk, te besluit wat behou moet word en waarvan vergeet kan word en dan weer die volgende paar te pak, paar na paar na paar.

“Hulp en ondersteunende e-posse het my die moed gegee om deur te druk ek uiteindelik vorentoe te kan kyk. Sover ek weet, is die lêer nou skoon van moontlike duplikate. Dit los my met 491,336 name en gee my die geleentheid om die aanslag op 500,000 in alle erns aan te pak.

e-SAGI is voorwaar 'n hulpmiddel wat vir die ernstige genealoog onontbeerlik is. Die databasis word met die genealogiese program LEGACY gelees. Die standaard-weergawe van dié program kan HIER afgelaai word. Dié program is ook by e-SAGI ingesluit.

  • Inligting oor die aard en omvang van e-SAGI is te sien deur HIER TE KLIK.
Die huidige databasis (met die data van 400 000 persone) is op DVD teen R120 plus R15 posgeld beskikbaar. Daar word besef dat baie mense nie oor DVD-lesers beskik nie. Daarom is die databasis ook op twee CD's beskikbaar teen R140 plus R15 posgeld.

Hierdie pryse is vir versending in Suid-Afrika. Versending na die buiteland sal groter posgeld meebring. Pryse moet met Dennis Pretorius bevestig moet word. Bestellings kan ook by Dennis geplaas word. Sy epos-adres is krugersdorp@pixie.co.za. KLIK HIER en stuur nóú 'n epos aan Dennis.

Die beskikbaarheid van die jongste databasis (met 500 000 persone se data) sal aangekondig word sodra dit gereed is.

Monday, 5 January 2009

DIS LONEND OM TE ADVERTEER

’n Broer en suster, albei in hul 60’s, is Kersfees met mekaar herenig nadat hulle sowat 40 jaar gelede kontak verloor het.

Boonop het hulle uitgevind hulle woon al jare lank in dieselfde woonbuurt, het die Daily Mail gister berig.

Mnr. Ken Whitty (64) het gesê hy het sy suster, Yvonne, soms by haar potplante in haar voortuin gesien, maar het nooit vermoed dit is sy suster nie.

“Ons het so baie verander dat ons mekaar net nie sou herken nie.”

Die broer en suster het saam in Salford grootgeword. Hul ouers is in hul vroeë tienerjare dood.

’n Familievriend het hulle grootgemaak, maar hulle het uitmekaar gedryf nadat hulle albei uit die huis is.

In 1970 het Whitty na die huis gegaan waar sy suster vroeër gewoon het, maar dit was gesloop.

Oor die jare het Whitty probeer vasstel wat van sy suster geword het, maar kon nie eens vasstel of sy nog leef nie.

“Ek het gedink ek sal haar uiteindelik vind, maar tyd het verbygegaan en dit het nooit gebeur nie,” het hy gesê.

“Ek het gedink: Dis Kersfees; ek is volgende jaar 65 en ek moet iets doen.”
Hy het ’n boodskap in ’n plaaslike koerant geplaas waarin hy hulp vra om haar op te spoor.

Kort daarna het hy ’n foonoproep van ’n skoolvriend gekry.

’n Paar minute later het die telefoon weer gelui.

“Hallo, dit is Yvonne,” het sy suster gesê.

“Ek kon dit nie glo nie. Ek het haar gevra waar sy bly en sy het gesê in Reddish.

“Ek het gevra waar omtrent en sy het gesê in Noord-Reddish. Ek het gesê: ‘Ek ook.’”

Hy het onmiddellik na haar huis gegaan om haar te sien.

Bron: BEELD, 4 Januarie 2008

Wednesday, 26 November 2008

ELEKTRONIESE TELEFOONGIDS BRING VREUGDE

Die genealoog (of persoonsopspoorder) moenie Telkom se elekroniese telefoongids gering skat nie. Dis ‘n waardevolle hulpmiddel.

Gister het ‘n merkwaardige verhaal bekend geword toe Sandra (fiktiewe naam), ‘n vooraanstaande sakevrou in die Oos-Kaap, vertel het hoe dié gids haar gehelp het om haar aangenome dogter se biologiese ouers, na ‘n soektog van baie jare, op te spoor.

Agtien jaar gelede het sy en haar man die baba, Marlene (fiktiewe naam), aangeneem. ‘n Klompie jare het Sandra Marlene belowe dat sy haar regtige ouers opgespoor sal hê teen die tyd as sy haar 18de verjaardag vier.

Die soektog was jare lank aan die gang. Sandra het onlangs nog ‘n beroepsopspoorder groot geld betaal om te help. Sy het nog nie weer van hom gehoor nie.

Intussen het Marlene se 18de verjaardag nader gekruip.

Sandra het weer deur al haar dokumentasie gegaan om opnuut leidrade te probeer vind. Daar was ‘n adres – in ‘n ander provinsie -- op een of ander dokument. Toe sy op ‘n keer daar was, was daar niemand en die bure het vertel die mense wat daar woon se van* kom nie ooreen met die van waarna sy soek nie.

Heelwat later en ná nog baie navrae het Sandra Marlene se biologiese ma se nooiensvan nagespeur. Dit was al. G’n name, voorletters of adres nie.

Verlede week – enkele dae ná Marlene se 18de verjaardag -- was Sandra bra bedruk. Daai belofte aan Marlene …

Toe onthou sy dat iemand haar van die elektroniese telefoongids vertel het. Met wanhoop was sy voor haar rekenaar op die internet. Sy het Marlene se ma se nooiensvan op die elektroniese telefoongids ingetik. Daar was ‘n raps meer as 100 van hulle in die land.

Noukeurig het Sandra hulle een vir een deurgekyk -- nie dat sy gedink het sy sou iets van waarde vind nie. Dit was nog ‘n dag, nog ‘n metode, nog ‘n probeerslag. Ná enkele minute kon sy nie glo wat sy voor gesien het nie. Langs een van diegene op die lys voor haar, was die einste adres waar sy tevore gaan soek het.

Sy het sonder aarseling gebel. Dit was Marlene se een ouma (haar biologiese ma se ma). Daar was baie trane en baie vreugde.

En Marlene weet nou waar sy vandaan kom. Boonop is die groot ontmoeting dié naweek.

Die eenvoud van die saak is dat Sandra vroeër die verkeerde van* by die regte adres gesoek het. Met nog een brokkie inligting wat bygekom het, het die elektroniese telefoongids die geheim ontrafel. Bygesê: Sandra was geduldig en vasberade. Sy het nooit moed opgegee nie. Haar woord teenoor Marlene het sy nagekom.

* Die verkeerde van was toe al die tyd die pa s’n van wie die ma intussen geskei is.

Sunday, 12 October 2008

GRATIS HANDLEIDING VIR GENEALOGIESE NAVORSING

Daniël Jacobs skryf op SAGEN:

Die 2004-weergawe van my Handleiding vir Genealogiese Navorsing is al geruime tyd beskikbaar. Klik HIER om dit af te laai. Die grootte van die volledige handleiding was altyd ongeveer 24 MB. Sommige mense het probleme ondervind met die aflaai daarvan. Daar is nou 'n PDF-weergawe van 14MB beskikbaar vir aflaai. Ek glo die PDF-weergawe sal minder probleme gee met die aflaai. (Dit beslaan 189 bladsye met 94 aanhangsels -- altesame 389 bladsye.)

Daniël skryf onder meer in die handleiding:

  • Ek het ‘n BA Hons in Geskiedenis aan die US en die Nasionale Diploma in Argiefwetenskap aan die RSA Technikon verwerf. Ek doen reeds die afgelope 18 jaar genealogiese en historiese navorsing en was vir 3 jaar werksaam in die NGK-argief en vir 3 jaar in die Nasionale Argief in Kaapstad. Ek het ook in September 2004 ‘n boek oor die geskiedenis van die Vosloo-familie voltooi vir mnr. Ton Vosloo, die voorsitter van NASPERS. Sedert 1992 is die kursus reeds deur meer as 80 mense bygewoon.
  • Die doel met die kursus is om vir die kursusganger te leer hoe om familienavorsing te doen. Alhoewel groot dele van die kursus van waarde sal wees vir navorsing oor enige Suid-Afrikaanse bevolkingsgroep, word in die bespreking van bewaarplekke, bronne en die gevallestudie veral gefokus op die bronne en navorsingsmetodiek wat vir navorsing oor blanke Afrikaner-families van belang is.
  • Wat is die oorsprong van die kursus? Ek het dikwels in die Nasionale Argief, Kaapstad se leeskamer opgelet dat 'n persoon byvoorbeeld die oggend in die argief sou aankom, die hele dag daar vertoef en dan die volgende dag weer daar is. Met die aanknoop van 'n geselsie het ek dikwels vasgetel dat die persoon nog nooit in die argief was nie, ten spyte van 'n hele dag se navorsing, veel vordering gemaak het nie. As ons dan gesels oor waarna die persoon op soek was, kon ek dikwels, deur die gee van 'n paar leidrade, hom of haar help om wesentlik vordering te maak met sy of haar navorsing. Ek het toe mettertyd besef dat daar 'n behoefte is aan 'n praktiese kursus wat vir die navorser vertel wat hy moet doen vandat hy by die argief se deur instap totdat hy weer daar uitstap. Die materiaal is dus baie prakties.
  • Die argiewe en ander navorsingsinstellings bevat 'n onuitputlike bron van inligting. Daar word beweer dat geen groep oor sulke omvattende bronne m.b.t. sy voorgeslagte beskik as die blanke Afrikaner nie. Dit waarskynlik onder meer omdat feitlik alle blanke Afrikaners vir ongeveer die eerste 250 jaar aan die NG Kerk behoort het en die dokumente nie soos baie van die Europese dokumente in oorloë verwoes is nie.
Op 'n ander trant skryf Daniël dat Karel Schoeman nog 'n indeks van sy VOC-registers beskikbaar gestel vir aflaai. Klik HIER.

Sunday, 21 September 2008

NUWE WEERGAWES VAN TWEE DATABASISSE

300 000 GRAFTE SE DATA

Die Begraafplaasprojek (Cemetery Recording Project) van die GGSA het ‘n wonderlike mylpaal behaal: teen die einde van September 2008 sal dié databasis gegewens oor nie minder nie as 300 000 grafte in Suid-Afrika bevat.

Dié aankondiging is Saterdag, 20 September 2008, deur Peter Moss (links) wat aan die stuur van die projek is, by ‘n vergadering van die Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) van die GGSA bekendgemaak.

Die Wes-Gautengtak was die gasheer van dié vergadering.

Volgens Peter sal die sewende weergawe van die projek by die GGSA se volgende Algemene Jaarvergadering in 2009 vrygestel word.

Die omvang daarvan is nou van so ‘n aard dat dit waarskynlik nie meer meer op ‘n CD sal pas nie. Gevolglik sal dit op ‘n DVD vrygestel word.

Die huidige sesde uitgawe bevat na raming 250 000 grafte se besonderhede (teenoor die 300 000 van aanstaande jaar se nuwe weergawe). Dit kan bestel word by André Heydenrych, nasionale tesourier van die GGSA. Sy epos-adres is: aheydenr@mweb.co.za. KLIK HIER as u nóú 'n epos aan André wil stuur.

Vir die oningeligtes: die Begraafplaasprojek behels die optekening van grafte van veral plase en kleiner dorpies in Suid-Afrika.

Bywerkings word deurentyd gedoen.

400 000 PERSONE SE DATA

‘n Tweede groot prestasie is die aankondiging van Lucas Rinken (links) dat elektroniese Suid-Afrikaanse Genealogiese Indeks (e-SAGI) se volgende weergawe 400 000 name sal bevat. Lucas is die man wat reeds jare lank aan dié databasis werk. Dit bevat data van feitlik al wat ‘n familie in Suid-Afrika is. Lucas is ook voorsitter van die Wes-Gautengtak.

Dié databasis is eweneens nou te groot vir ‘n CD. Dit sal op DVD teen R120 plus R10 posgeld beskikbaar wees.

Hierdie pryse is vir versending in Suid-Afrika. Versending na die buiteland sal groter posgeld meebring. Pryse moet met Dennis Pretorius bevestig moet word. Bestellings kan ook by Dennis geplaas word. Sy epos-adres is krugersdorp@pixie.co.za. KLIK HIER en stuur nóú 'n epos aan Dennis.

Die doel van die indeks is om aan navorsers 'n betroubare databasis te voorsien wat deurgaans opgedateer word. Data word van 'n menigte bronne ingesamel en by bestaande data gevoeg. Lucas maak nie daarop aanspraak dat die data volledig en korrek is nie. Dit is nietemin 'n uitstekende bron vir diegene wat op soek is na vertrekpunte om familie te vind.

Die databasis bevat sowat 144 000 families en sluit altesame 25 500 vanne in. Sommige vanne is egter gedupliseer as gevolg van verskillende spellings. As voorbeeld noem Lucas dat daar De Wet en de Wet is. Vir die rekenaar is dit twee verskillende spellings. Een van sy take is juis om al die data te standaardiseer.

Een van die groot voordele van eSAGI is dat die data op 'n moderne rekenaarprogram (Legacy) geplaas is. Dit bring mee dat familieverbintenisse tussen mense met verskillende vanne geïdentifiseer word. Anders gestel: met die koppelings wat Lucas tussen families (met die rekenaar) maak, "ontdek" die rekenaar nog meer koppelings wat 'n mens andersins moontlik nooit van sou geweet het nie.

Vergelyk dit met boeke wat stamregisters weergee. Boeke bevat hoofsaaklik die name en data van mense met 'n spesifieke familienaam (van) asook die persone met wie hulle getroud was. Soms word die ouers van laasgenoemde (m.a.w die skoonouers), genoem. Daar hou dit op.

Met eSAGI word al die ooreenstemmende name van baie verskillende stamregisters gekoppel.
  • 'n Persoon se stamregister word dus aan die stamregisters van sy skoonouers gekoppel.
  • Vir dieselfde persoon se kinders beteken dit dat hul stamregister aan hul oupas en oumas aan hul ma se kant gekoppel word.
Sodoende kan 'n mens 'n baie meer uitgebreide familie ontdek -- en sodoende daardie voorouer of ander familie vind waarna al so lank gesoek word.

Lucas bestee daagliks baie ure aan dié projek. Die opbrengs uit verkope gaan aan die Wes-Gautentgtak van die GGSA.
  • Hierdie twee databasisse is van groot waarde. Menige genealoog het met inligting wat hierdeur bekom is, hul voorsate en waardevolle inligting gevind.

Monday, 8 September 2008

SAG-CD's IN 2009 BESKIKBAAR

  • Suid-Afrikaans Geslagregisters (SAG) se volume 17 (die laaste vanne tot Z) behoort teen November 2008 te verskyn;
  • Die vrystelling van SAG-CD's sal hopelik in die eerste helfte van 2009 realiseer.
Hierdie goeie nuus het prof Christo Viljoen, onder-voorsitter van beheerraad van die Genealogies Instituut van Suid-Afrika (GISA), gisteraand aan die Wes-Gautengtak bekendgemaak.

Hy was genader na aanleiding van 'n berig wat hy op 28 Augustus 2008 op SAGEN geplaas oor die omvattende werk aan SAG waarmee GISA tans besig is. Daarin het hy 'n perspektief oor SAG uiteengesit.

Prof Viljoen het hy soos volg geskryf:

"Wanneer die laaste volume van SAG is, is die reeks vanaf A tot Z voltooi. Dit is 'n mylpaal wat geen ander land nog op die gebied van die genealogie bereik het nie.

"Die eerste vier volumes van SAG (dws vanaf vanne A tot K) is nie deur GISA uitgegee nie, maar deur die Raad op Geestelikwetenskaplike Navorsing (RGN) in Pretoria voltooi, met wyle dr JA Heese as redakteur.

"Nadat die RGN sy Afdeling Genealogie gesluit het, is GISA tien jaar gelede gestig en het dit vanaf volume 5 (L - M) aan die SAG reeks voortgewerk.

"Dr Heese se oorspronklike doelwit was bloot om die bloedsamestelling (afkoms) van die Afrikaners vas te stel. Vir daardie doel het hy net belang gehad by die eerste tweehonderd jaar ná die volksplanting. Dit is waarom hy van die kerkrekords gebruik gemaak het en die reeks in 1850 afgesluit is. Die uiteindelike uitgee van die SAG reeks was 'n uitvloeisel van sy oorspronklike oogmerk
.
Vóór die rekenaar

"In die dae voor die rekenaar was alles eers noukeurig op indekskaartjies aangeteken en vandaar per hand in geslagregisters gegiet -- voorwaar 'n monumentale taak wat jare in beslag geneem het. Ek het oneindig baie waardering vir wat wyle dr Heese vermag het met dit tot sy beskikking.

"Dit moet onthou word dat die eerste vier volumes van SAG byna uitsluitlik uit die handgeskrewe Heese-manuskripte saamgestel is -- natuurlik ook met uitsonderings. Wyle dr Heese het buiten De Villiers & Pama se drie dele hoofsaaklik gebruik gemaak van die Kaapse NG Kerk rekords, dws dope en huwelike tot om-en-by 1850 (wat saamval met die Groot Trek). Dit verklaar ook waarom daar so min sterfdatums in die eerste vier dele voorkom.
Hersiening
"GISA se beheerkomitee het besluit dat, sodra die SAG reeks voltooi is, daar met die hersiening van die reeks begin sal word, ook met die oog op die eventuele beskikbaarstelling daarvan via elektroniese middele. Die afsnydatum sal ook later wees as die aanvanklike 1850, dws tot vroeg in die 20st eeu -- ongeveer 1930. Die aanvoorwerk met die hersiening is reeds aan die gang met SAG-1, dws vanne wat met "A", "B" en "C" begin.


891 bladsye se B-vanne

"Die werk is nog lank nie klaar nie. Een voorbeeld illustreer die aansienlike uitgebreidheid van die hersiene reeks: einde Julie vanjaar (toe die De Beer inligting nog nie afgehandel was nie) het die "B"-vanne tot by Bosman 'n allemintige 891 bladsye beslaan. Vergelyk hierdie omvang met die oorspronklike totaal van 428 bladsye met "B"-vanne in SAG vol. 1.

A-vanne
"Die bygewerkte "A"-vanne op GISA se databasis staan nou reeds by nagenoeg 250 bladsye (en word nog daagliks bygewerk tot 1930 en aangevul met bydraes uit die publiek en ander ongepubliseerde bronne).

C-vanne
"Die "C"-vanne het in SAG volume 1 uit 168 bladsye bestaan. Die bygewerkte databasis van "C"-vanne staan reeds op 795 bladsye en nog is dit die einde nie.

Geen Winsoogmerk
"GISA is 'n nie-winsgedrewe organisasie en ontvang geen subsidies of staatsteun nie. Ek hoop dat hierdie inligting 'n beter perspektief sal gee op die goeie werk wat met min personeel en fondse vermag word."

Saturday, 16 August 2008

MÜLLER-SAAMTREK BEPLAN VIR 2010

Die Müllers hou oor twee jaar -- in 2010 -- vir die vierde keer in sestig jaar ‘n saamtrek en begin nou reeds organiseer. Dit sal in die Mosselbaai-Riversdal-omgewing gehou word.

Koot Müller, organiseerder, vertel dat verreweg die meeste Müllers in Suid-Afrika afstam van Antonie Michael Müller (nie "Michiel Mulder" soos verkeerd in die Geslacht-register aangegee word nie) van Duitsland.

Koot versoek dat die volgende persone hom kontak.

Almal wat weet dat hulle afstammelinge van Antonie Michael is en

Diegene wat nie seker is van Műller-stamvader hulle afkomstig is nie.
(Daar het ‘n aantal Müller-stamvaders hulle in Suid-Afrika kom vestig.)

  • Die eerste Müller-saamtrek is in 1948/49 gehou. Hiertydens het prof. D. F. Du Toit Malherbe die reuse-taak onderneem om ‘n volledige familieregister van stamvader Antonie Michael op te stel. Dit is later gepubliseer.
  • Die tweede Műller-fees is in 1965 gehou. Hiertydens is daar veral gekonsentreer op die restourasie van die stamvader se huis te Zeekoegat (Riversdal).
  • Die derde Müller-fees is in Januarie 1990 gehou. Hiertydens is die Müller publikasie die eerste keer opgedateer en opnuut gepubliseer. Nel-Marie Műller het koördinering gedoen.
  • Nou volg die die vierde Műller-fees IN 2010. Daar word beplan om dit in 2010 in die Mosselbaai-Riversdal-omgewing te hou. Die plan is dat die opgedateerde Műller-boek daar beskikbaar sal wees.
Koot se besonderhede is:

Epos: kootmuller@absamail.co.za.
Posadres: Posbus 33436, Glenstantia 0010.
Selfoonnommer: 083/378-9550.
  • Verdere gegewens oor Antonie Michael Müller is:
Hy was afkomstig van Merscheid, na 1891 bekend as Ohligs, en sedert 1929 deel van Solingen, suid-oos van Düsseldorf, Duitsland.

As soldaat van beroep, vertrek hy met die skip Hillegonda van die Oos- Indiese Kompanjie in 1735 na die Kaap. Van 1740 tot 1745 was hy ‘n kneg by A Bergh, het in 1745 volle burgerskap ontvang, en is op 4 Mei 1746 op Roodezand (later Tulbagh) getroud met Adriana van Rooyen (oudste dogter van stamvader Cornelis van Rooyen en sy vrou Jacomina, dogter van 'n ander stamvader Gerrit van Deventer).

Hy het hom toe gevestig op die leningsplaas Zeekoegat, in die huidige distrik Riversdal. In 1747 het hy dragonder geword in die Swellendamse Burgermag en toe korporaal. In 1759 is hy bevorder tot luitenant, die tweede hoogste militêre rang en 'n jaar later tot heemraadslid.

In 1763 het hy, om gesondheidsredes, sy ontslag as luitenant aangevra. Hy is in 1768 oorlede. Adriana hom 21 jaar lank oorleef het.

Een van sy drie seuns, Hillegart, het veral bekendheid verwerf as medeleier en verslaggewer van die ekspedisie wat in Desember 1782 na die skipbreukelinge van die Grosvenor gaan soek het.

Monday, 4 August 2008

Raar, maar waar

Alta Roux skryf op SAGEN: Mense wat kla oor familiename moet weer dink. Ek sien vanaand die volgende skeisaak op NAAIRS:

DUFF, PATRICIA SHEILA COLLEEN AILEEN MAVOURNEEN ONAH BIDDY SHAMROCK. BORN WYNDHAM-QUINN.

(ILLIQUID CASE. STARTING 19700526. DIVORCE. EDWARD GARTH DUFF.)

Tuesday, 15 July 2008

IS DIT DIÉ EEN OF DAAI EEN?

Is dit Legacy of is dit Family Tree Maker? Is dit dié een of is dit daai een?

Mense doenig in die genealogie sal nog lank verskil oor watter rekenaarprogram die geskikste vir genealogiese datavaslegging is.

Die hoofrede: elke mens het sy eie voorkeure.

Die afgelope tyd is daar weer, soos tevore, ‘n gesprek op SAGenealogie, oor sekere verskille tussen hierdie programme.

In een boodskap het ‘n persoon die volgende waarskuwing oor een van die gewilde programme gerig:

“… dit is daarom van belang dat ek net laat weet dat daar ernstige probleme opduik met die integriteit van 'n databasis wanneer mens 'n Gedcom invoer en met jou data saamvoeg. Allerhande lukrake samesmelting gebeur en die resultaat is 'n totale wanorde”.

Hierop het ‘n grootbaas van die betrokke programvervaardiger geantwoord:

“The problem must be a (the) user doing something wrong”.

Dié soort argumentering kan (sal) sonder ophou voortgaan. Uiteindelik gaan dit oor:

  • Persoonlike voorkeure en
  • Instudering. Genealogiese programme verg leeswerk om dit te bemeester. Elkeen het sy eie eienskappe, sommiges uniek, en moeilikheidsgraad.'n Ander moontlike rede vir die verskille is soos eerste liefde: die roes nie. As 'n mens eers wortel in 'n program geskiet het, verplant jy nie maklik nie.

Hoe kies 'n mens? Veral vir 'n beginner is dit nie maklik nie.

Plekke waar 'n mens hulp kan kry om te kies tussen verskillende genealogiese programme en die voor- en nadele van elkeen kan opweeg, is by:

Wenke, in die besonder vir beginners, alvorens 'n besluit geneem word:

  • Win soveel as moontlik menings van ervarenes in, maar vergewis jou vooroordele (as dit moontlik is) en
  • Gaan na elke program se EIE webtuiste om meer daarvan te leer. "Speel" eers 'n rukkie met die gratis weergawe -- as daar een is.
(As jy nie na die regte webtuiste gaan nie, kan jy mislei word, veral met gratis programme deurdat hulle geld uit jou probeer maak. Gaan eerder na Google, tik die program se naam in, wag vir lys programme en maak seker dat die program se naam en die webtuiste se naam ooreenstem.)

Friday, 4 July 2008

BUS RY OOR 25 GRAFTE IN PRETORIA

’n Bus van die Tshwane-metroraad se busdiens het deur die palissadeheining van die Ou Begraafplaas in Pretoria-Wes gebars, oor 25 grafte gery en kort voor die graf van die skilder J.H. Pierneef gestop.


’n Lid van die Tshwane-metropolisie wat op die toneel was, het gesê die busbestuurder het omstreeks 06:00 vanuit die Tshwane-metroraad se busdepot in Kerkstraat gery. Sy wou glo regs draai in Kerkstraat om pendelaars in die stad te vervoer.


Volgens dié metropolisielid het die busbestuurder gesê die bus se remme het geweier, waarna sy beheer oor die bus verloor en reguit oor die straat deur die begraafplaasheining gery het.


Die busbestuurder is nie beseer nie en na ’n nabygeleë hospitaal geneem waar sy vir skok behandel is.


Die busbestuurder het sowat 30 m van waar sy die begraafplaas deur die palissadeheining ingejaag het, ’n skerp draai na regs gemaak en minder as 20 m verder teen ’n boom tot stilstand gekom.


Pierneef se graf is aan die ander kant van dié boom.


Die busbestuurder het 25 grafstene in die proses beskadig. Die familiegrafte van oudpres. Paul Kruger, wat sowat 50 m van die toneel af is, of die Heldeakker-begraafplaas, wat binne die Ou Begraafplaas is, is nie beskadig nie.


Die grafte wat wel beskadig is, is dié van pionierfamilies wat in die 19de eeu in Pretoria gewoon het.


Dr. Murunwa Makwarela, uitvoerende direkteur van strategie van die departement van landbou en omgewing in die Tshwane-metroraad, het gesê van die grafte wat beskadig is, is meer as 100 jaar oud.


“Dié begraafplaas is ’n nasionale erfenis. Die plek is vir ons heilig en het sentimentele waarde.


“Ons sal seker maak die grafte word so gou moontlik herstel sodat dit lyk soos dit oorspronklik was.”


’n Ondersoek sal gedoen word om die oorsaak van die ongeluk te bepaal. – Beeld, 4 Junie 2008.

Wednesday, 25 June 2008

DIE NOODSAAK EN NUT VAN DIE GESPREKSGROEP, SAGENEALOGIE


Dit verbasend hoeveel mense in die genealogie belangstel, maar nie weet dat daar hulp is nie. Gevolglik sterf hul belangstelling dikwels asook die bydrae wat hulle tot die genealogie kon gemaak het.

‘n Antwoord hierop, ten dele, is om by SAGENEALOGIE (kortom: SAGEN), ‘n Afrikaanse Genealogiese Geselsgroep, aan te sluit. Hier is nie minder nie as 846 lede (tans) wat mekaar daagliks help om onder meer hul voorouers en ander familie op te spoor. Daar is ook dikwels interessante en stimulerende debatte oor aspekte in die genealogie.
Lidmaatskap is gratis.


Onder die lede is manne en vroue wat die genealogie al jare lank beoefen, maar ook nuwelinge.

Neem kennis: dié groep sal nie jou stamregister saamstel nie. Jou werk bly jou werk, maar jy sal baie waarskynlik hulp kry.
Moenie verwar word met  
SAGenealogie se webwerf en  
SAGenealogie se gespreksgroep (ook genoem poslys) nie.
  • Die webwerf verduidelik waaroor alles gaan:  die agtergrond, die doel, die taalbeleid en hoe om aan te sluit en
  • Die geselsgroep is waar boodskappe (vrae en antwoorde) geplaas word – ‘n poslys.
Dennis Pretorius (regs), een van die land se voorste genealoë, is die skepper van hierdie nuttige gebruiksmiddel. Hy word deur ‘n knap bestuurspan bygestaan.
Op die webwerf word die doel soos volg uiteengesit:
  • Om die geleentheid te bied om ons genealogiese doelwitte te bereik;
  • Om dit in 'n atmosfeer te doen waar ons vriende kan maak en bly en
  • Om ons kennis met mekaar te deel om sodoende meer mense bloot te stel aan ons passie.
Alvorens u by SAGENEALOGIE aansluit, gaan lees eers die inhoud van die webwerf. Klik HIER. Daar is ook verskeie handige skakels na ander webwerwe.
Daar is duidelike riglyne oor die moets en moenies van die gespreksgroep. Advertensies, sinnelose boodkappe, persoonlike aanvalle en politieke gesprekke is verbode. As ‘n lid oortree, sal hy/sy deur die lyseinaars aangespreek word en lidmaatskap van die poslys mag selfs beëindig word.
Om by SAGENEALOGIE aan te sluit, kan een van twee weë gevolg word:
SAGENEALOGIE was in Desember vanjaar agt jaar oud. In dié tydperk was daar al duisende navrae en antwoorde. Die tabel hieronder toon ‘n geskiedenis van die hoeveelheid boodskappe wat al daar verskyn het. Dit vertel ‘n verhaal van welwillendheid en hulpvaardigheid.

Alle antwoorde op navrae word nie noodwendig op die gespreksgroep (poslys) geplaas nie. Lede kry dikwels antwoorde wat na hul private epos-adresse gestuur word. Die hulp wat uit SAGENEALOGIE voortvloei, is dus veel meer as wat die tabel weerspieël.

Al hierdie boodskappe (na raming 75 000)
is nie verlore vir diegene wat nou eers aansluit nie.
Hulle kan almal, volgens u keuse, deurgesoek word
 
Maak só:
  • Gaan na die Poslys (Messages).
  • Heelbo of heelonder is ‘n blokkie “Search”. (Sien die diagram hieronder.)
  • Gestel u wil al die boodskappe sien wat al oor die familienaam (van), Ferreira, geplaas is.
  • Tik "Ferreira" in (sonder die aanhalingstekens). Dit sal 975 (tans) boodskappe wys.
  • Tik "Jan Christoffel Ferreira", byvoorbeeld, in en die resultaat word na 80 (tans) boodskappe verminder.
  • Tik "Jan Christoffel Ferreira Bloedrivier", byvoorbeeld, in en die resultaat word na 8 (tans) verminder.
  • Met die “Newer”en “Older” (regs van "Search") kan u tussen hulle rondsoek.
 

'n Magdom inligting wag om gevind te word.
Dis voorwaar een van Suid-Afrika se voorste, vriendelikste en nuttigste genealogiese gebruiksmiddels. Bowe alles: hier maak ‘n mens vriende – oor die hele wêreld.
WENK: Nadat u intekening goedgekeur is, het u die keuse of u elke dag nuwe boodskappe individueel of in groepe (digest) wil kry. Om u keuse te maak, doen die volgende:

  • Gaan na die Poslys (Messages);
  • Klik op “Edit membership”. Dit is klein geskryf. ‘n Mens sien dit skaars raak. Die rooi pyltjie hieronder dui dit aan; 
 
  • Kies tussen “Individual Mail” of “Daily Digest” onder “Step 2”.
  • “Step 1” en “Step 3” het ook belangrike keuses om te maak.

Thursday, 15 May 2008

TOWERWERK

Legacy 7 Charting is 'n towenaar. Dit het pragfunksies waarmee mooi familiekaartekaarte gemaak kan word. Hieronder is 'n voorbeeld van een uit 'n klompie keuses wat dit bied. Klik daarop om dit te vergroot.





































Dié program sal deel van die nuwe Legacy 7-weergawe wees wat eersdaags vrygestel word. Intussen is dit op 'n proefgrondslag (reklamemiddel) gratis aan Legacy-gebruikers beskikbaar gestel.

Die program is betreklik maklik om te gebruik. 'n Nuweling sal die funksies gou bemeester. "Gebruik net jou 'common sense'", het my pa gesê. "Lees net behoorlik wat daar staan," het my ma gesê. Uiteraard moet die data en foto's op Legacy ingevoer wees.

Meegaande (klik op die kaart om dit te vergroot) is gemaak as 'n geskenk aan 'n ouerpaar wie se baba, Heston Fox Ferreira (*27 Februarie 2008) gedoop is. Nadat dit gedruk is, beslaan dit 3 x 4 A4-grootte bladsye.

Die sukses hiervan was dat die 30 foto's van die baba se onmiddellike vier voorgeslagte almal opgespoor is. Dit is van pa en ma tot by die sestien grootoupagrootjies en grootoumagrootjies.

Met die saamstel hiervan het 'n klompie belangrike (ou) lesse weer na vore getree.

Legacy word wyd in genealogiese kringe gebruik. Hoewel Legacy nie in almal se smaak vir datavaslegging is nie, bly dit die moeite werd om nuwe ontwikkelings dop te hou.

Les: Benut 'n nuwe, erkende program, veral as hy gratis is.

Dié soektog na die foto's het drie maande geduur. Eintlik was dit nie 'n soektog nie. Dis hoe lank dit geneem het om almal so ver te kry om die foto's beskikbaar te maak. Die meeste data is oor dieselfde tydperk gevind, maar nie alles nie. Hopelik sal dit mettertyd kom. Dan druk ons die kaart weer en vervang die een in die raam.

Les: Moenie ophou vra en soek nie, jou kanse word al beter om te kry wat jy benodig.Buiten die "stamboom" kan 'n mens met Legacy 7 Charting bykomende foto's/prente en skrif insluit. Gevolglik is vier pragfoto's op die kaart aangebring:
  • Een van die ma, Erika Fourie, enkele minute voor die geboorte;
  • Pa Dawson en oupa Heston John Grewar enkele dae na die geboorte.
  • Oupa Heston en sy nageslag op die dag van die doop en
  • Oom Ruhan (15) wat klein Heston op die doopdag die kerk ingebring het.
  • 'n Afdruk van die baba se voetjies pas na sy geboorte is ook ingesluit.
Les: Neem foto's van goeie en unieke oomblikke. Ordentlike foto's.Oupa Heston het in 'n stadium opgemerk dat hy die enigste oorlewende is wat die mense op sekere foto's kon uitken. Só was dit ook met ander foto's. Die foto's is daar, maar daar is niks wat aandui wie daarop verskyn nie.

Les: Doen jou nageslag 'n yslike guns en dokumeteer jou foto's voor dit te laat is.
Voor die samestelling van die kaart is heelwat tyd aan die restorering van die foto's bestee. Dit is tydrowend, maar die moeite werd. Al 31 foto's is gekrop sodat net die gesigte wys. Almal is ook ewe groot gemaak -- 6" x 4". Al
die foto's van oupas/ouma en ouer is 'n bruinskakering gegee om dit 'n ouer voorkoms te gee.

Les: Doen moeite met jou foto's. Kry 'n geskikte rekenaarprogram. Daar is heelwat.

Die ander oupa, Johan Fourie, het 'n pragskets van 'n jakkals gemaak, omdat die baba se een doopnaam "Fox" is -- uitsonderlik, maar dit het 'n stukkie geskiedenis wat nie hier ter sprake is nie. In die baba se familie is daar drie joernaliste. Hulle het die skryfwerk gedoen. Kort stukkies, maar goed gedoen. 'n Tante het met die kleure en 'n vriend het met die komposisie gehelp.

Les: Benut jou familie (en vriende) se talente.
Klein Heston se ouers sal dié kaart -- geraam -- as 'n geskenk op sy doopdag kry, maar dis nie goed genoeg nie. Die foto's is. Hulle sal ook 'n volledige stel (behoorlik gedokumenteer) daarvan op CD kry om vir hul kinders te bewaar. Dís mos spesiaal om te hê. Dink net hoe danig dié kleinman daaroor sal wees as hy verstand gekry het.

Plaaslik kos dit R3 om 'n poskaart-grootte foto af te druk. Ander pryse is: 6" x 8" = R12; 8" x 10"= R30 en 8"x 12" = R35.

Terloops: die druk van die kaart het R30 gekos -- by 'n plek wat argiteksplanne druk.

Les: Bewaar die ware Jakob as jy dit het.

Ongelukkig het die program ook 'n paar tekortkominge. Dit sluit in die gebrek aan 'n volledige "grid" om die plasing van bykomende foto's en skrif te vergemaklik en 'n gesukkel om foto's te vervang. (Altemit het ek nie behoorlik gelees nie.) 'n Funksie om die eerste geslag (die baba) se foto te vergroot, is ook wenslik. So ook om die foto's van almal in die laaste (jongste) geslag in te sluit. Origens is dit 'n pragprogram. -- Japie Bosch, Jeffreysbaai.

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...