Thursday 15 May 2008

TOWERWERK

Legacy 7 Charting is 'n towenaar. Dit het pragfunksies waarmee mooi familiekaartekaarte gemaak kan word. Hieronder is 'n voorbeeld van een uit 'n klompie keuses wat dit bied. Klik daarop om dit te vergroot.





































Dié program sal deel van die nuwe Legacy 7-weergawe wees wat eersdaags vrygestel word. Intussen is dit op 'n proefgrondslag (reklamemiddel) gratis aan Legacy-gebruikers beskikbaar gestel.

Die program is betreklik maklik om te gebruik. 'n Nuweling sal die funksies gou bemeester. "Gebruik net jou 'common sense'", het my pa gesê. "Lees net behoorlik wat daar staan," het my ma gesê. Uiteraard moet die data en foto's op Legacy ingevoer wees.

Meegaande (klik op die kaart om dit te vergroot) is gemaak as 'n geskenk aan 'n ouerpaar wie se baba, Heston Fox Ferreira (*27 Februarie 2008) gedoop is. Nadat dit gedruk is, beslaan dit 3 x 4 A4-grootte bladsye.

Die sukses hiervan was dat die 30 foto's van die baba se onmiddellike vier voorgeslagte almal opgespoor is. Dit is van pa en ma tot by die sestien grootoupagrootjies en grootoumagrootjies.

Met die saamstel hiervan het 'n klompie belangrike (ou) lesse weer na vore getree.

Legacy word wyd in genealogiese kringe gebruik. Hoewel Legacy nie in almal se smaak vir datavaslegging is nie, bly dit die moeite werd om nuwe ontwikkelings dop te hou.

Les: Benut 'n nuwe, erkende program, veral as hy gratis is.

Dié soektog na die foto's het drie maande geduur. Eintlik was dit nie 'n soektog nie. Dis hoe lank dit geneem het om almal so ver te kry om die foto's beskikbaar te maak. Die meeste data is oor dieselfde tydperk gevind, maar nie alles nie. Hopelik sal dit mettertyd kom. Dan druk ons die kaart weer en vervang die een in die raam.

Les: Moenie ophou vra en soek nie, jou kanse word al beter om te kry wat jy benodig.Buiten die "stamboom" kan 'n mens met Legacy 7 Charting bykomende foto's/prente en skrif insluit. Gevolglik is vier pragfoto's op die kaart aangebring:
  • Een van die ma, Erika Fourie, enkele minute voor die geboorte;
  • Pa Dawson en oupa Heston John Grewar enkele dae na die geboorte.
  • Oupa Heston en sy nageslag op die dag van die doop en
  • Oom Ruhan (15) wat klein Heston op die doopdag die kerk ingebring het.
  • 'n Afdruk van die baba se voetjies pas na sy geboorte is ook ingesluit.
Les: Neem foto's van goeie en unieke oomblikke. Ordentlike foto's.Oupa Heston het in 'n stadium opgemerk dat hy die enigste oorlewende is wat die mense op sekere foto's kon uitken. Só was dit ook met ander foto's. Die foto's is daar, maar daar is niks wat aandui wie daarop verskyn nie.

Les: Doen jou nageslag 'n yslike guns en dokumeteer jou foto's voor dit te laat is.
Voor die samestelling van die kaart is heelwat tyd aan die restorering van die foto's bestee. Dit is tydrowend, maar die moeite werd. Al 31 foto's is gekrop sodat net die gesigte wys. Almal is ook ewe groot gemaak -- 6" x 4". Al
die foto's van oupas/ouma en ouer is 'n bruinskakering gegee om dit 'n ouer voorkoms te gee.

Les: Doen moeite met jou foto's. Kry 'n geskikte rekenaarprogram. Daar is heelwat.

Die ander oupa, Johan Fourie, het 'n pragskets van 'n jakkals gemaak, omdat die baba se een doopnaam "Fox" is -- uitsonderlik, maar dit het 'n stukkie geskiedenis wat nie hier ter sprake is nie. In die baba se familie is daar drie joernaliste. Hulle het die skryfwerk gedoen. Kort stukkies, maar goed gedoen. 'n Tante het met die kleure en 'n vriend het met die komposisie gehelp.

Les: Benut jou familie (en vriende) se talente.
Klein Heston se ouers sal dié kaart -- geraam -- as 'n geskenk op sy doopdag kry, maar dis nie goed genoeg nie. Die foto's is. Hulle sal ook 'n volledige stel (behoorlik gedokumenteer) daarvan op CD kry om vir hul kinders te bewaar. Dís mos spesiaal om te hê. Dink net hoe danig dié kleinman daaroor sal wees as hy verstand gekry het.

Plaaslik kos dit R3 om 'n poskaart-grootte foto af te druk. Ander pryse is: 6" x 8" = R12; 8" x 10"= R30 en 8"x 12" = R35.

Terloops: die druk van die kaart het R30 gekos -- by 'n plek wat argiteksplanne druk.

Les: Bewaar die ware Jakob as jy dit het.

Ongelukkig het die program ook 'n paar tekortkominge. Dit sluit in die gebrek aan 'n volledige "grid" om die plasing van bykomende foto's en skrif te vergemaklik en 'n gesukkel om foto's te vervang. (Altemit het ek nie behoorlik gelees nie.) 'n Funksie om die eerste geslag (die baba) se foto te vergroot, is ook wenslik. So ook om die foto's van almal in die laaste (jongste) geslag in te sluit. Origens is dit 'n pragprogram. -- Japie Bosch, Jeffreysbaai.

1 comment:

Note: only a member of this blog may post a comment.

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...