Saturday 24 May 2008

INTERESSANTHEDE UIT DIE e-SAGI (12)

Twee Senators, ‘n Kabinetminister en
die Argitek van die Voortrekkermonument

Deur Lucas Rinken

Op Maandag 19 Mei 2008, het gesiene genealoog Johan VERMEULEN aan die e-poslys van SAGen geskryf en besonderhede gevra oor Senator HF de WET en sy vrou, ouers van Emmerentia Roelofviena Petrocina de WET wie getroud was met Senator Marthinus Joachim VERMEULEN.

Dit het my op ‘n wonderlike soektog geplaas wat my groot genot verskaf het.

Senator Hendrik Francois de WET (a1b1c2d5e4f3g9), gebore 20.4.1860 en gedoop op Aliwal-Noord op 12.8.1860, was 24 jaar oud toe hy op 31.3.1884 op Rouxville getroud is met Hester Catharina Johanna ODENDAAL, gebore 20.8.1863 -- die dogter van Michiel Wilhelmus ODENDAAL en Amerentia Roedolphina Petrusina BOTHA.

Hulle het sewe kinders gehad waarvan die oudste, soos reeds genoem, en gebore op 8.5.1885 in 1912 trou met Senator Marthinus Joachim VERMEULEN gebore op Sutherland op 28.3.1881 en ook daar gedoop op 23.4.1881.

Marthinus was 'n prokureur op Lindley. Hy het sy onderrig aan die SA Kollege, Kaapstad ontvang. Hy was lid van die Provinsiale Raad vir Heilbron en Voorsitter van die Vrystaatse Provinsiale Raad vanaf 1915 tot 1929. Hy was ‘n klompie jare lank -- vanaf 1929 -- 'n Senator in die Unie van Suid-Afrika Regering. Hy was ook lid van die Hoofbestuur van die Vrystaatse Helpmekaar. Verder was hy ook burgemeester van Lindley.

Hulle het 6 ses kinders gehad. Die derde een was Adv. Marthinus Joachim VERMEULEN gebore 29.12.1916 en gedoop op Lindley op 25.2.1917. Hy trou in Pretoria op 14.12.1914 met Dr. Irma Leonora MOERDIJK, gebore inPretoria op 6.9.1923. Sy was 'n argitek en skrywer en die houer van van 'n doktorsgraad -- PhD in Stads- en Streeksbeplanning. Sy was ook die dogter van die beroemde argitek Gerard MOERDIJK. Hy het onder meer die Voortrekkermonument in Pretoria ontwerp asook tientalle kerke, bankkantore, kantoor- en ander geboue.

Dr Irma MOERDIJK het vanaf 1948 as argitek by verskeie genootskappe gepraktiseer en was ook as argitek in diens van die Bloemfonteinse munisipaliteit. Irma het verskeie boeke geskryf, onder meer 'n boek oor haar beroemde vader. Dit heet: "Man en Monument - Die Lewe en Werke van Gerard MOERDIJK ".

Maar daar eindig die interesante familie-verbintenisse nie.

Dr. (Eregraad) Gerard Leendert Pieter MOERDIJK is gebore op 4.3.1890 in Nylstroom. Hy is waarskynlik die bekendste Afrikaanse argitek. Tientalle Afrikaanse Kerke is deur hom ontwerp en aangepas om by die behoeftes van ons Afrikaanse eredienste aan te pas. Hy het ook veral aandag gegee aan die akoestiek in die kerke. Hy het verskeie kompetisies vir die ontwerp van geboue gewen -- die belangrikste, dié van die Voortrekkermonument.

Maar wie was sy vrou?

Sylvia PIROW (b3) gebore 7.9.1896 is in 1918 met hom getroud. Sy was die dogter van Dr. Carl Bernhardt Ferdinand PIROW wie in 1889 uit Ludwigslust, Oos-Pruise hier aangekom het, getroud met Henriette Jasmine Marine TOMBY.

Hulle het drie kinders gehad -- die oudste, Adv. Oswald PIROW (links) gebore 14.8.1890 in Aberdeen en getroud met Elsé PIEL.

Hy was ‘n Minister in Genl. JBM Hertzog se Kabinet.

Na sy studies in Duitsland en Engeland, het hy in Suid Afrika tot die Balie toegetree. In 1924 was hy verkies tot die Parlement waar sy dryfkrag en entoesiame hom die poste van Minister van Justisie en van Verdediging onder Gen. JBM Hertzog besorg het.

Terwyl hy baie gedoen het om militêre bekwaamheid te verbeter, het sy beweerde Duitse gesindheid en veral sy besoek aan Adolf Hitler, baie kritiek uitgelok.

Hy het ook boeke geskryf oor die Bantoe-lewe en oor die lewe van Generaal Hertzog. Hy is in 1939 oorlede.

No comments:

Post a Comment

Note: only a member of this blog may post a comment.

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...