Friday 22 May 2009

500 000 IS OM DIE DRAAI

Net 9 000 om te gaan. Dan’s hy by 500 000.

Dis Lucas Rinken (links) se e-SAGI (elektroniese Suid-Afrikaanse Genealogiese Indeks) – ‘n projek van die Wes-Gauteng-tak van die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika.

Lucas is al jare lank besig met dié databasis. Menige genealoog het al sy soektog na voorouers met behulp hiervan beëindig.

Met inligting wat hy van oral in die wêreld kry, het Lucas veral in die afgelope klompie maande die databasis vinnig laat groei. In September 2008 het dit die data van 400 000 bevat. Binne agt maande het dit met 100 000 gegroei.

Hy het dit reggekry met ‘n aantal helpers wat hom getrou bygestaan het.

Een van sy groot uitdagings is om duplikate deur te werk. In die jongste paar weke was daar nie minder as 5 176 sodaniges wat hy moes bekyk.

“Ek was dikwels naby aan tou opgooi. Dis sieldodende werk om paar na paar deur te werk, te besluit wat behou moet word en waarvan vergeet kan word en dan weer die volgende paar te pak, paar na paar na paar.

“Hulp en ondersteunende e-posse het my die moed gegee om deur te druk ek uiteindelik vorentoe te kan kyk. Sover ek weet, is die lêer nou skoon van moontlike duplikate. Dit los my met 491,336 name en gee my die geleentheid om die aanslag op 500,000 in alle erns aan te pak.

e-SAGI is voorwaar 'n hulpmiddel wat vir die ernstige genealoog onontbeerlik is. Die databasis word met die genealogiese program LEGACY gelees. Die standaard-weergawe van dié program kan HIER afgelaai word. Dié program is ook by e-SAGI ingesluit.

  • Inligting oor die aard en omvang van e-SAGI is te sien deur HIER TE KLIK.
Die huidige databasis (met die data van 400 000 persone) is op DVD teen R120 plus R15 posgeld beskikbaar. Daar word besef dat baie mense nie oor DVD-lesers beskik nie. Daarom is die databasis ook op twee CD's beskikbaar teen R140 plus R15 posgeld.

Hierdie pryse is vir versending in Suid-Afrika. Versending na die buiteland sal groter posgeld meebring. Pryse moet met Dennis Pretorius bevestig moet word. Bestellings kan ook by Dennis geplaas word. Sy epos-adres is krugersdorp@pixie.co.za. KLIK HIER en stuur nóú 'n epos aan Dennis.

Die beskikbaarheid van die jongste databasis (met 500 000 persone se data) sal aangekondig word sodra dit gereed is.

No comments:

Post a Comment

Note: only a member of this blog may post a comment.

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...