Sunday 12 October 2008

GRATIS HANDLEIDING VIR GENEALOGIESE NAVORSING

Daniël Jacobs skryf op SAGEN:

Die 2004-weergawe van my Handleiding vir Genealogiese Navorsing is al geruime tyd beskikbaar. Klik HIER om dit af te laai. Die grootte van die volledige handleiding was altyd ongeveer 24 MB. Sommige mense het probleme ondervind met die aflaai daarvan. Daar is nou 'n PDF-weergawe van 14MB beskikbaar vir aflaai. Ek glo die PDF-weergawe sal minder probleme gee met die aflaai. (Dit beslaan 189 bladsye met 94 aanhangsels -- altesame 389 bladsye.)

Daniël skryf onder meer in die handleiding:

  • Ek het ‘n BA Hons in Geskiedenis aan die US en die Nasionale Diploma in Argiefwetenskap aan die RSA Technikon verwerf. Ek doen reeds die afgelope 18 jaar genealogiese en historiese navorsing en was vir 3 jaar werksaam in die NGK-argief en vir 3 jaar in die Nasionale Argief in Kaapstad. Ek het ook in September 2004 ‘n boek oor die geskiedenis van die Vosloo-familie voltooi vir mnr. Ton Vosloo, die voorsitter van NASPERS. Sedert 1992 is die kursus reeds deur meer as 80 mense bygewoon.
  • Die doel met die kursus is om vir die kursusganger te leer hoe om familienavorsing te doen. Alhoewel groot dele van die kursus van waarde sal wees vir navorsing oor enige Suid-Afrikaanse bevolkingsgroep, word in die bespreking van bewaarplekke, bronne en die gevallestudie veral gefokus op die bronne en navorsingsmetodiek wat vir navorsing oor blanke Afrikaner-families van belang is.
  • Wat is die oorsprong van die kursus? Ek het dikwels in die Nasionale Argief, Kaapstad se leeskamer opgelet dat 'n persoon byvoorbeeld die oggend in die argief sou aankom, die hele dag daar vertoef en dan die volgende dag weer daar is. Met die aanknoop van 'n geselsie het ek dikwels vasgetel dat die persoon nog nooit in die argief was nie, ten spyte van 'n hele dag se navorsing, veel vordering gemaak het nie. As ons dan gesels oor waarna die persoon op soek was, kon ek dikwels, deur die gee van 'n paar leidrade, hom of haar help om wesentlik vordering te maak met sy of haar navorsing. Ek het toe mettertyd besef dat daar 'n behoefte is aan 'n praktiese kursus wat vir die navorser vertel wat hy moet doen vandat hy by die argief se deur instap totdat hy weer daar uitstap. Die materiaal is dus baie prakties.
  • Die argiewe en ander navorsingsinstellings bevat 'n onuitputlike bron van inligting. Daar word beweer dat geen groep oor sulke omvattende bronne m.b.t. sy voorgeslagte beskik as die blanke Afrikaner nie. Dit waarskynlik onder meer omdat feitlik alle blanke Afrikaners vir ongeveer die eerste 250 jaar aan die NG Kerk behoort het en die dokumente nie soos baie van die Europese dokumente in oorloë verwoes is nie.
Op 'n ander trant skryf Daniël dat Karel Schoeman nog 'n indeks van sy VOC-registers beskikbaar gestel vir aflaai. Klik HIER.

No comments:

Post a Comment

Note: only a member of this blog may post a comment.

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...