Thursday 10 April 2008

JONG MENSE EN GENEALOGIE

Dis al 'n jarelange debat: hoe kry ons jong mense meer geïnteresseerd in die genealogie?

As ons jonk is wil ons weining daarvan weet. As ons ouer is, is ons jammer (lees spyt) ons het nie vroeër begin nie.

Hier is 'n paar uittreksels uit 'n gesprek wat onlangs op SAGenealogie hieroor verskyn het.

Adélle Jerling: Hoekom bemark ons nie die doel en konsep van (familie)navorsing op 'n meer lewendige en "funky" manier om jonger mense te trek nie? Daar is soveel jong mense met wie ek praat wat wil weet hoekom hulle nie van genealogie weet nie. Is dit omdat ons dalk te veel hou by die "old tried and trusted" maniere van bemarking? Moet ons nie dalk dit gaan bemark by skole, universiteite, in tydskrifte of op internetblaaie waar jongmense baie rondswerf nie? Is ons nie dalk in 'n groef nie?

Die doel van ons navorsing is tog nie omdat ons almal elkeen 'n boek wil publiseer nie? Ons wil ons erfenis bewaar. Hoe gaan ons dit regkry as mense om ons dink ons is snaakse karakters wat krap waar dit nie jeuk nie, en navorsing doen "omdat ons nie sosiale lewens het nie"?

Familienavorsing moet 'n nuwe asem kry, ons moet nuwe trekpleisters kry. Skep 'n kompetisie by skole vir die mooiste stamboom (dit kan gekombineer word met kuns).

Wanneer ek met jong mense gesels oor genealogie, is die helfte verstom omdat hulle nog nooit daarvan gehoor het of besef het hoe interessant dit werklik is nie, die ander helfte dink ek is verkramp en oudmodies!

André du Plessis, Centurion: Voorstelle dat ek R10 per maand moet bydra en ek gaan gedagvaar word vir kopiereg skendings en plagiaat, maak dit nou vir my en ander nie meer 'n plesier om deel te wees van hierdie "eksklusiewe" groep nie. Waarvoor het ek skenkings gemaak van foto’s en ander inligting aan eGGSA en ander persone sonder om aan te dring op erkenning of "verering"?

As enige professionele persoon sy geld wil verdien deur sy professie, het ek nie 'n probleem daarmee nie. En as hy sy inligting wil publiseer is dit sy reg. Nou wat verwag julle van die amateurs soos jongmense en skoolkinders? Om 'n professionele genealoog te betaal vir die amateur se stamboom wat hy of sy by die skool wil gaan wys? Of die kind kan dit van die internet aftrek en gedagvaar word vir kopiereg.

Annelie Els: Iewers het ek ‘n brokkie geskiedenis opgespoor wat hulle belangstelling prikkel.

Nou word ek deur die familie gevra om asseblief navorsing te doen omdat hulle hul “ancestoral passport” wil bekom. Dan het ons nou die lekker geleentheid om mooi vir hulle uit te lê waar
hulle vandaan kom. Hoop dat dit vir hulle `n anker gaan wees daar in die vreemde

Daniël Jacobs: Ek het so 'n paar jaar gelede vir 'n klompie lede van die Voortrekker- jeugbeweging wat besig was met 'n genealogie-taak gevra wat -- gemeet op 'n skaal van 1-10 - hulle belangstelling in geskiedenis is. Een outjie het gesê 2, 'n ander 9 ens. Toe vra ek vir hulle wat hulle belangstelling sou wees as ek vir hulle sou kon bewys dat een van hulle voorouers aan die Groot Trek deelgeneem het. Die seun wat gesê het sy belangstelling was 2 het gesê dit sou dan op 'n 4/5 lê (ek kan nie presies onthou nie).

'n Uur later nadat ek vir hulle gewys het op my seun Stefan - wat ook 'n lid was van die Voortrekkerspan - se voorouers se verbintenis met die Groot Trek en ek dieselfde vraag weer vra het die betrokke seun gesê sy belanstelling lê op iets soos 6 (dit kon meer as 6 gewees het, maar was nie minder nie).

Dit is een van die belangrikste sleutels om vir kinders 'n belangstelling in geskiedenis te gee -- wys vir hulle hoe hulle eie vlees en bloed -- en hulle voorouers se naby familie -- daaraan deelgeneem het. Ek het later dieselfde "eksperiment" met nog 'n klompie Voortrekkers gedoen en soortgelyke resultate verkry.

Daan Hamman: Daar was in die verlede al verskeie inisiatiewe om jongmense te betrek, skole is besoek en gevra om genealogieprojekte te begin, die Voortrekkers en Boy Scouts is besoek en gevra of hulle nie 'n kenteken vir genealogie-projekte wil oorweeg nie, landboutydskrifte het kort genealogie artikels ingesluit waar boere versoek is om self en saam met hulle kinders begraafplase op hulle plaas en/of naburige plase te besoek en die grafsteenskrifte aan die GGSA te stuur. Van hierdie inisiatiewe het weinig gekom, Adélle is moontlik reg dat ons bemarking nie goed was nie.

Jong mense het vandag baie aktiwiteite waaraan hulle deelneem en die belangstelling in genealogie kom eers later.

ENIGE VOORSTELLE? STUUR 'N EPOS AAN ONS.
KLIK HIER/CLICK HERE

No comments:

Post a Comment

Note: only a member of this blog may post a comment.

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...