INTERESSANTHEDE UIT DIE e-SAGI (13)
Hoor of lees ‘n mens van die familienaam SCHREINER, dink ‘n mens dadelik aan Olive, die internasionaal bekende skryfster van “The Story of an African Farm”. Sy was ‘n merkwaardige vrou.
Olive Emilie Albertina SCHREINER (links) , gebore 24.3.1855 op “Wittebergen”, Herschel in die Kaap en oorlede op 11.12.1920 op Wynberg, Kaapstad is op 26.2.1894 op Cradock getroud met Samuel Cron CRONWRIGHT, die kleinseun van Eerwaarde Peter WRIGHT, ‘n sendeling van Philippolis. Sy vrou was Margery CRON. Só word hul kleinkinders toe bekend as CRONWRIGHT. (Foto: Wikipedia)
Olive was vernoem na haar drie broers wat voor haar dood is, naamlik: Oliver (1848-1854), Albert (1843-1843) en Emile (1852-1852).
Later het ‘n ander bekende Suid-Afrikaanse outeur toe sy naam verander van Samuel CRONWRIGHT na CRONWRIGHT-SCHREINER.
Olive was, volgens SAG die sewende van agt kinders van Gottlob SCHREINER gebore op Fellbach, Wurtenburg op 6.8.1814, ‘n sendeling van “The London Missionary Society” en Rebecca LYNDALL van Engelse afkoms. Volgens “African History ex About.com” was sy die negende van twaalf kinders uit hierdie arm sendelinggesin.
Olive was ‘n uitgesproke ondersteuner van feminisme, sosialisme en passifisme en ‘n kritikus van Europese imperialisme. Sy was selfopgevoed en beïnvloed deur die werke van filosowe soos Herbert Spencer en John Stuart Mill en die natuurkundige, Charles Darwin. Dit was deur sodanige leesstof dat sy haar vooruitstrewende lewensuitkyk ontwikkel het. Sy het ook haar familie se godsdiens verwerp.
In 1874 het sy voltyds as governante begin werk -- vir sewe jaar by vyf verskillende vermoëende Afrikaanse families terwyl sy in haar spaartyd begin skryf het. Met die hulp van haar vriendin, Mary Brown, ‘n uitgesproke Britse liberale feminis, is sy na Engeland om as verpleegster opgelei te word en om haar novelle gepubliseer te kry. Ongelukkig het die asma wat sy op die Kimberley diamantvelde opgedoen het, in Engeland kronies geword en haar verhinder om mediese opleiding te ondergaan.
As gevolg van destydse vooroordeel, is haar boek in 1883 onder die skuilnaam Ralph Irons uitgegee en het sy internasionale erkenning ontvang as die eerste realiste beskrywing van lewe in Suid Afrika. Sy is gou opgeneem in die geselskap van vooraanstaande jong sosialiste soos Eleanor Marx, WE Gladstone, George Bernard Shaw en Edward Carpenter.
Die kroniese asma het genoodsaak dat sy in 1889 na Suid-Afrika teruggekeer het om in die skoon lug van die Karoo te woon op Matjiesfontein. Sy is toe is met ‘n volstruisboer getroud.
Mettertyd het die verhouding egter afgekoel en het haar man besluit dat sy na Johannesburg moes verhuis, aangesien die hoogte bo seespieël goed vir haar sou gewees het. Hier het sy maklik toegang verkry tot vooraanstaandes, insluitend President Paul Kruger.
Die ABO was egter vir haar verwoestend -- haar huis is geplunder, haar dokumente verwoes en sy is vir ‘n jaar geïnterneer as gevolg van haar openlike ondersteuning vir die Boeressaak.
Intussen het haar broer, William (links) , Prokureur-Generaal geword in Cecil John Rhodes se regering aan die Kaap. Hy het later ook Eerste Minister van die Kaapse Regering geword. Hy word beskryf as een van die mees uitstaande seuns van Suid-Afrika. "A moral and intellectual giant and a leader of his profession, he was never prepared to compromise his principles of justice and his insistence on fair play for the country's black community.” (Foto Wikipedia)
Hy trou op 3.1.1884 op Swellendam met Frances Hester REITZ gebore 20.10.1852, jonger suster van President FW REITZ. Haar moeder was Cornelia Magdalena DENYS vanwaar die naam van haar jongse seun, Oliver Deneys SCHREINER, en Kol. Deneys REITZ, welbekende seun van die President en skrywer van boeke soos “Commando”, “Trekking On” en “No Outspan”.
Oliver, gebore 29.10.1890 is in Kaapstad en Cambridge opgelei waar sy studies deur die Eerste Wêreldoorlog onderbreek is. Hy het offisier in ‘n Britse Regiment geword en diens gedoen in Frankryk waar hy die “Military Cross” toegeken is. Hy is in 1920 tot die Johannesburgse Balie toegelaat en was vanaf 1945 tot 1960 in Bloemfontein Àppelregter. Hy was ook kanselier van die Universiteit van Witwatersrand van 1961 tot 1974. Hy is op 6.5.1919 getroud met Edna Lambert FINCHAM.
Sy ouer broer, William Frances Reitz SCHREINER gebore 19.4.1886 op Claremont, was ook tot die Balie toegelaat maar sy groot liefde was rugby. In 1909 was hy die kaptein van die “SA College School”-span en later kaptein van Villages en hy het vir die WP gespeel.
In 1912 was hy ‘n aktiewe speler op 28-jarige ouderdom, maar het sy lewenstaak begin as lid van die Suid-Afrikaanse keurkomitee en het gehelp om die span te kies vir die tweede Springboktoer na die Britse Eilande. Hy was 31 jaar lank voorsitter van die nasionale keurkomitee. Hy was keurder vir 40 jaar -- ‘n unieke rekord. Saam met ‘n neef, George GIE, het Bill SCHREINER so te sê die Kaapse rugby tussen 1911 en 1920 beheer. In AC Parker se boek, Giants of South African Rugby word Bill as een van dié "reuse" bestempel -- saam met spelers soos Danie Craven, Oubaas Markotter, Boy Louw, Bennie Osler, Phil Mostert en Japie Krige.
Een van President FW REITZ se susters was Barbara Johanna REITZ gebore 5.9.1835. Sy het op 15.11.1854 getrou met Johan Coenraad GIE gebore in Kaapstad op 19.1.1827. Hul vierde seun was George Gerhard GIE gebore 4.9.1865 en getroud met Charlotte Elizabeth STEYTLER. Sy neef Bill was nooit getroud nie.
Ek het begin by Olive en ek sluit ook met haar af. Nadat sy vrygelaat is uit internering het sy begin om haar notas weer bymekaar te bring. Haar boek, “Women and Labour” is in 1911 gepubliseer. “The book became the feminist ‘bible’ of the early twentieth century”.
In 1914 wou sy deur Italië toer vir mediese behandeling maar moes, as gevolg van die Eerste Wêreldoorlog, na Engeland uitwyk waar sy die regte van diensweieraars (“conscientious objectors”) ondersteun en ‘n verdere boek geskryf het “which examined pacifism within a developing feminist and socialist moral framework.”
Bo: Samuel Cron CRONWRIGHT, Olive Schreiner se man, by die drie kiste van haar, haar babadogter en haar hond. Samuel is later ook hier begrawe. (Foto: www.karooheartland.com/
In die herfs van 1920, oortuig dat sy na aan sterf was, het sy na Suid-Afrika teruggekeer. Binne ‘n paar maande is sy aan ‘n hartaanval dood. Op haar versoek is sy saam met haar babadogter en haar hond in ‘n klip grafkelder op ‘n berg in die Karoo begrawe -- sy het grond by Buffelshoek naby Cradock vir hierdie doel aangekoop. Duisende het die langs die spoorlyn gestaan toe haar oorskot daarheen geneem is.
Generaal JC SMUTS het haar as “’n nasionale bate” beskryf.
No comments:
Post a Comment
Note: only a member of this blog may post a comment.