Thursday 24 January 2008

VOORTREKKERGRAFTE MOET PLEK MAAK VIR WISSELAAR

Muldersdrift – Negentien grafstene en ’n 1938- gedenksteen ter viering van die Groot Trek is gister hier verwyder (foto regs) om plek te maak vir ’n nuwe wisselaar by die Pinehaven-kruising (R28/N14) wat voor die Wêreldbeker-sokkertoernooi in 2010 aan die Wes-Rand voltooi moet word. Sommige grafte is ouer as 100 jaar.

Van dié “eerste skoolhoof in die gebied” tot “die eerste Voortrekkers wat in Transvaal aangekom het”, se oorskot sal volgende week uit die eeu oue grafte opgegrawe word en dieselfde dag in die Sterkfontein-begraafplaas in Krugersdorp herbegrawe word.

Mev. Hazel du Plessis (72) van Discovery, Roodepoort, vertel mnr. Johannes Francois du Toit was die eerste skoolhoof in dié gebied. Hy is op die 3 April 1935 op die ouderdom van 68 jaar oorlede.

Haar oupa, mnr. Johannes Christoffel Snyman, ’n grootwildjagter en “eerste Voortrekker” het ’n bekende boer in die gemeenskap geword.

“Die werkers het van hom gehou. Hy was soms Ou Buffel genoem omdat hy nie baie vriendelik was nie,” sê sy.

Die oorspronklike plaashuis van die Snymans vorm vandag deel van Bergvallei, ’n konferensiefasiliteit waar troues ook gereeld gehou word. Een van haar ouma se susters het met ’n Mulder getrou en hulle het naby die Krokodilrivier (“The drift”) gaan bly. Vandaar die gebied se naam – Muldersdrift.

Mnr. Anton Fourie, ’n argeoloog van Professional Grave Solutions (PGS) in Pretoria, sê die grafte van die “oorspronklike Voortrekkers” sal Maandag per hand opgegrawe word.

Elke graf se oorskot word in die teenwoordigheid van familie (indien hulle wil toekyk), in kiste geplaas en na nuwe grafte by Sterkfontein-begraafplaas geneem.

Daar is in Mei met ’n openbare deelnameproses begin en advertensies is in plaaslike koerante geplaas om familielede van die afgestorwenes op te spoor. Verskeie permitte moes bekom word om die oorskotte op te grawe en te herbegrawe.

Die oudste graf is 110 jaar oud en is dié van Checilah Johanna J. Snijman, wat op 19 Desember 1897 in die ouderdom van 31 jaar dood is.

Martins Funerals in Randburg sal vandag die grafstene verwyder. Die grafstene word dan vir ’n maand by Galaxy Memorials in Tarlton gestoor, omdat grafstene nie dadelik op nuwe grafte gesit kan word nie. Al die koste word deur private ontwikkelaars gedra.

’n Winkelsentrum van sowat 25 000m2 gaan ook naby die nuwe wisselaar gebou word.

Dié ontwikkelings vorm onder andere deel van die oorhoofse ontwikkelingsplan van die Johannesburgse Padagentskap (JRA) om die Pinehaven-kruising veiliger te maak vir motoriste en die vloei van verkeer na die Wieg van die Mensdom meer toeganklik te maak.

Uit: Beeld, 24 Januarie 2008

  • Dennis Pretorius, NUK-lid van GGSA, skryf soos volg op SAGEN:
Ons hier in Krugersdorp het lank en hard gestry dat daar werk gemaak moet word van hierdie padveranderings - die kruising het groot lewensverlies veroorsaak en dit het dringend noodsaaklik geword. Die gemeenskap het selfs 'n beswaaroptog gehad oor hierdie kruising en die deelnemers was hoofsaaklik blanke inwoners amper 'n Boere-Toi-Toi.

Ongelukkig gaan hierdie klein begraafplaas in die proses verskuif moet word maar dit het gepaard gegaan met baie konsultasie en het voldoen aan die wetlikke voorskrifte.

Die oorskot sal herbegrawe word in die Sterkfontein begraafplaas waar dit die nodige erkenning sal kry.

Ek dink dat dit 'n wen-wen situation was.

No comments:

Post a Comment

Note: only a member of this blog may post a comment.

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...