Wednesday 3 October 2007

INTERESSANTHEDE UIT DIE e-SAGI (7)

Die Louws en die Dominees

Deur Lucas Rinken

Ek het altyd geweet dat die Louws besondere mense is. Stamvader Jan Pietersz (Broertjie) Louw, gebore 1.3.1628 op Caspel Ter Maere, Nederland is my “8th Great Grand Father”, soos Legacy dit stel. Verder loop my lyne deur twee van sy seuns - a1b1 Pieter Louw EN a1b5 Jacobus LOUW.

Nounet het ek die jongste GENESIS (Maart 2007), tydskrif van die e-GGSA-tak, ontvang. Daarin skryf vriend Hendrik Louw, baie trots, oor sewe geslagte wat nou agtereenvolgens met die naam Adriaan Jacobus Louw gedoop is. Hy eis nêrens dat dit ‘n rekord is nie, maar ek dink dit gaan moeilik oortref word.

Met die invoer van hierdie data in die e-SAGI databasis en daarby ook die wyer familie, het dit my getref hoeveel NG-predikante daar aan een gesin gekoppel kan word. Miskien is gesin nie die regte woord nie, want dit gaan oor ‘n paar geslagte en ook na ander gesinne maar familie is weer te wyd.

NR 1: Kom ons begin by nommer twee op Hendrik se lys - Ds. Adriaan Jacobus (Attie) Louw, gebore 23.1.1859. Wat Hendrik nie sê nie, is dat daar, net in e-SAGI, dus moontlik meer wat ons nie van weet nie, 10 met die naam Adriaan Jacobus Louw voor hom was - die eerste gedoop te Paarl op 7.7.1771.

NR 2: Sy pa, ook Adriaan Jacobus en gebore 15.11.1811 was twee keer getroud, eers met Geertruida Anna Smuts, ‘n eerste niggie een maal verwyder van veldmaarskalk JC Smuts en toe met Charlotte Louisa Maria Herold, gebore 17.8.1819, die dogter van ds Tobias Johannes Herold (b7) en Louisa Adriana Hoorn. Ds Herold was NG-predikant op Paarl en verbonde aan die Kweekskool in Stellenbosch. Hy was ook jare lank moderator van die NG Kerk in die Kaap. Die telling is nou (predikante) 2.

NR 3: Uit die huwelik met G.A. Smuts was gebore op 26.6.1834 Maria Magdalena Louw (b5c1d6e6f2g1). Sy trou te Paarl op 8.3.1852 met prof ds Nicolaas Jacobus Hofmeyer (a1b2c1d10), gebore 8.3.1827. Hy was leraar op Hantam en professor in die teologie. Dis 3.

NRS 4 TOT 7: Uit die tweede huwelik word op 20.1.1845 gebore Louisa Adriana (Wiesie) Louw (b5c1d6e6f2g6) en sy trou op 20.10.1868 op Paarl met ds Arend Hermanus Hofmeyer, gebore 27.9.1837, (dis 4), die seun van ds Arend Hermanus Hofmeyer (b1c10), gebore 19.4.1802. (Dis 5). Hy was ook met ‘n Louw getroud -- Susanna Maria Louw (b5c1d6e6f3) uit dié gesin gebore op 4.10.1813. Hulle het ook ‘n ander seun gehad, ds Jan Hendrik Hofmeyer, gebore 3.2.1835. (Dis 6.) Hy was getroud met Isabella Murray (b9), dogter van alombekende ds Andrew Murray (a2) gebore 26.5.1794 op Clatt, Aberdeenshire, Skotland. (Dis 7.)

NR 8: Hy het ook ‘n ander seun gehad, a2b5, ds Charles Murray, gebore 26.2.1833. (Dis 8.)

NR 9: Nou gaan ons terug na die gesin van AJ Louw en CLM Herold en ons vind nog ‘n dogter Margaretha Johanna Elizabeth (b5c1d6e6f2g8), gebore op 6.7.1848 en sy trou op Paarl op 15.11.1871 met ds. Johannes Roedolph Albertyn, gebore 8.3.1847. (Dis 9.)

NRS 10 EN 11: Hulle het twee seuns -- die eerste is ds Pieter Kuijpers Albertyn (b1c3d15e3f1), gebore 31.10.1872. ( Dis 10.) Hy trou op Wellington op 14.4.1903 met ‘n vrou met interessante name, Elise Beauchamp de Jersey Morgan, gebore 9.10.1882. Sy is die dogter van ds Charles Smith Moragn (a2b3), gebore 25.4.1842 ook ‘n NG-leraar. (Dis 11.)

NR. 12: Hul tweede seun is ds Johannes Rudolph Albertyn (b1c3d15e3f2), gebore 6.8.1878, nog ‘n NG-predikant (Dis 12.)

NR 13: En nog is het einde niet. Die elfde kind in die gesin is Johanna Hendrina Louw (b5c1d6e6f2g11), gebore 9.2.1855. Sy trou op Paarl op 18.2.1873 met prof ds Christoffel Frederik Jacobus Muller, gebore 22.12.1845. Hy was NG-leraar op Swellendam en verbonde aan die kweekskool. (Dis 13.)

NRS 14 EN 15: Hul vyfde kind was ds Tobias Ballot Muller (a27b9c5) gebore 13.8.1884, NG-leraar en taalstryder. (Dis 14.) Hy trou op 30.3.1915 met Elizabeth Thom, dogter van ds George Thom. (Dis 15.) Gaan ons verder, sal ons waarskynlik prof Thom, voormalige rektor van Stellenbosch Universiteit teëkom.

Weer eens daag ek almal om ‘n beter rekord te boekstaaf.

No comments:

Post a Comment

Note: only a member of this blog may post a comment.

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...