DIE NUWE AANGESIG VAN BEGRAAFPLASE IN SUID-AFRIKA
Onderstaande twee berigte het op 16 September 2007 in Rapport verskyn. Die opskrifte is seker nie van die aangenaamste nie, maar die inhoud het plek-plek ontstellende implikasies vir genealoë en familiegeskiedskrywers vorentoe.
Die berigte word geplaas met die toestemming van Rapport.
Die berigte word geplaas met die toestemming van Rapport.
LYKE "GEKRIMP" VIR MEER PLEK
Suid-Afrika se begraafplase is tot oorlopens toe vol.
Dié wat wel nog plek het, is onder geweldige druk, terwyl bestaande grafte ’n geruime tyd al hergebruik word. Met byna ’n miljoen sterftes per jaar gaan die situasie eerder versleg.
Veldtogte om veral verassings onder swart mense te bevorder, was nie suksesvol nie.
Dié probleem is op die pas afgelope Nasionale Kongres oor Begraafplase en Krematoria in Durban bespreek. Mnr. Pepe Dass, voorsitter van die kongres, sê daar is landwyd ’n grondnood vir begraafplase. In Durban is 80% van alle begraafplase vol, terwyl daar in Johannesburg tot 23 000 begrafnisse per jaar gehou word.
“Die aantal sterftes het die afgelope vyf jaar byna verdubbel. In 2006 het sowat 934 000 mense landwyd gesterf. Onder hulle was
46 725 onbekendes wat in sogenaamde armmansgrafte begrawe is.”
As al dié mense op die tradisionele manier begrawe moes word, sou sowat 518 ha grond gebruik gewees het.
Volgens Dass word grafte in die eThekwini-streek (Durban) al van 2000 af “hergebruik”. Vir dié hergebruik word die oorskot in ’n bestaande graf opgegrawe en in ’n sak in ’n hoekie van dié graf herbegrawe.
“Die bodem van die graf word dan weer gelykgemaak en siedaar, daar is plek vir ’n nuwe kis. Of die oorskot word veras en die graf kan weer gebruik word. Dan kan die oorskot ook elders in dié begraafplaas of ’n ander herbegrawe word.”
Dass sê dié gebruike is wettig en in ooreenstemming met die bepalings van die Wet op Begraafplase en Krematoria van 1996.
Volgens Dass probeer hulle al van 1998 af met ’n bewusmakingsveldtog onder veral swart mense die hergebruik van grafte en verassing aanmoedig.
“Die meeste is glad nie te vinde vir die herwinningsidee nie. Die probleem is dat dit teen hul kultuur indruis. Hulle wil nuwe grafte hê.”
Tog is sowat 5 000 mense in Umlazi tussen 2000 en 2005 in hergebruikte grafte begrawe.
“In Durban laat net sowat vyf swart families per week hul geliefdes veras – teenoor byna 600 mense wat weekliks in dié stad begrawe word.”
Histories wit begraafplase kom toenemend onder druk en baie mense wil glo nou daar begrawe word. “Dié plekke is egter nie vir ’n skielike toestroming beplan nie en die meeste is nou vol.”
Benewens verassing en tradisionele begrafnisse is daar nou ’n nuwe, omgewingsvriendelike metode wat behels dat ’n lyk met vloeibare stikstof gevriesdroog word en ultrasonies versplinter word. Die liggaam word só gereduseer tot net 30% van die oorspronklike gewig. Enkele lykbesorgers in Europa gebruik dié metode al.
Die oorskot word dan in ’n bioafbreekbare kissie geplaas en begrawe. “Dit neem baie min plek op en vergaan byna soos kompos. Slegs ’n klein, plat steen word op die graf geplaas,” verduidelik Dass. “Ons meen dit is hoe begraafplase in die toekoms daar gaan lyk.”
DUUR LAASTE RUSPLEK DALK JOU VOORLAND
Regstellende aksie, korrupsie en vigs is van die oorsake vir die land se begraafplaaskrisis.Begrafnisondernemers is erg bekommerd oor swak munisipale bestuur, onvoldoende beplanning en ’n hoë sterftesyfer weens vigsverwante siektes wat begraafplase in dié krisis dompel.
Volgens mnr. Martin Piek, besturende direkteur van Martins-begrafnisdienste, gaan die tekort aan plek om mense te begrawe, die verwaarlosing en die toenemende misdaadvoorvalle by dié plekke verassings dalk laat toeneem.
Maar, meen hy, dit kan ook tot ’n toename in private begraafplase lei, wat uiteindelik net deur die rykes bekostig sal kan word.
Vier private begraafplase bestaan al in Johannesburg en een in Kaapstad.
’n Graf in dié begraafplase jaag ’n mens ’n aansienlike bedrag uit die sak.“ ’n Graf daar kan jou maklik tot R3 000 uit die sak jaag. En dan is die begrafnisondernemer se koste nie bygereken nie,” sê Piek.
Hy meen heelwat probleme het ná 1994 begin toe regstellende aksie ook by die bestuur van begraafplase toegepas is.
“Mense wat voorheen grafgrawers en tuiniers was, is in sommige gevalle nou in bestuursposte. Die gevolg is chaotiese bestuur en byna geen beplanning vir die toekoms nie. Baie begraafplase is deesdae ook gevaarlik,” sê Piek.
“Heelwat besoekers en begrafnisondernemers is al daar beroof. ’n Voertuig en al ons toerusting is tydens voorbereidings vir ’n begrafnis gesteel. Wanneer jy die bestuur van die betrokke munisipaliteit daaroor nader, haal hulle net hul skouers op.”
Nog ’n begrafnisondernemer, mnr. Deon Koekemoer van Randfontein, sê die sterftes onder onwettige immigrante dra ook by tot die min plek in begraafplase.
No comments:
Post a Comment
Note: only a member of this blog may post a comment.