Wednesday 2 May 2007

NEEFS, NIGGIES EN KWARTIERSTAATVERLIES


IS JY FAMILIE VAN JOU GADE?

Bostaande was die opskrif van ‘n gesprek wat gedurende Februarie 2007 op die gespreksforum, SA Genealogie (SAGEN), gevoer is. Hier is ‘n aantal van die reaksies.

Paul Bosman, Pretoria: My vrou se ouers is van die Noord-Kaap afkomstig (gebore te Aggeneys en Verneukpan). My ouers is in Johannesburg en Krugersdorp gebore. ‘n Mens kan amper sê dat hulle van die uithoeke van die land kom. Die kans is seker maar klein dat hulle familie van mekaar kon wees, of so het ons gedink. Nou kan ek noem dat ons het 96 stamouers in Suid-Afrika in gemeen het.

Alta Roux: Die Pieters-familie is 'n lewende bewys dat jy (seker darem nou nie blindweg nie) met familie kan trou. Niggies en nefies het met mekaar getrou asof dit uit die mode gaan (of dit was 'n spul mooi mense). Ek het eers hier teen die 1950's 'n geval opgespoor waar 'n neef en niggie getrou het en vier kinders gehad het -- en twee van die vier is met spina bifida gebore. Verder kry ek geen bewyse van oorerflike gebreke nie.

Lucas Rinken, Roodepoort: My vrou is my sewende niggie een maal verwyder. Agt geslagte terug is stamvader Johannes Oosthuyzen en sy vrou Johanna Maartens ons gemeenskaplike voorsate -- sy deur b4, Elsie Oosthuizen en ek deur b6, Petronella.

Dis een van die groot voordele van ons Wes-Gauteng GGSA-databasis, wat nou 315,000 siele bevat. Sulke verwantskappe kan maklik bereken word. Indien enige iemand belangstel om hul verwantskappe te bepaal, stuur vir my so 3 na 4 geslagte terug van elk van die gades en ek sal met graagte die berekening doen.

Johan Pottas, Rekensentrum Universiteit van die Vrystaat (links): Ek is seker dat indien jou voorouers langer as 200 jaar in Suid-Afrika woon, soos myne en as jy ‘n groot genoeg databasis het, is ek familie van die meeste van die genealoë in Suid-Afrika.

Paul Bosman, Pretoria: Ek weet te min van genetika af om gesaghebbend hieroor kommentaar te lewer, maar dit is seker so dat oorerflike kwale van weerskante mekaar kan versterk in die nageslag. Die Rooms- Katolieke het ‘n tabel van familie wat met mekaar mag trou en die wat nie mag nie -- ‘n yslike lys, Neefs en niggies mag wel trou volgens die meeste lande se wette. Die meeste neefs en niggies wat onder my voorsate getrou het, was aan die beginjare van ons volk se geskiedenis hier in Suid-Afrika toe daar maar min mense en dus min keuses was. Dit het tot ‘n geweldige voorsaatverlies gely. Die volgende sommetjie sal die omvang van hierdie verskynsel toelig: my stamouers is gemiddeld tien geslagte voor my in dié land, so ek behoort die volgende aantal stamouers te gehad het: 2 tot die mag 10 = 2x2x2x2x2x2x2x2x2x2 = 1024. Maar in werklikheid was daar net 296 -- dus ‘n geweldige voorsaatverlies van 70,75 persent.

Hennie Nel: In my Nel-familie kom my pa van Guillaume Nel die stamvader se seun Jan (Jean) Nel * 1687 se geslag. My ma se familie weer van die ander seun B10, Pieter Willem Nel. Met my ouers se troue het die twee geslagte bymekaar uit gekom.

David le Roux: My PAF-lêer sê dat ek en my vrou “5th cousins, once removed” is. Wat nog meer interessant is, is dat ons meer as 100 voorouers deel. PAF-lys net die eerste 100. Dis seker nie té verrassend nie, aangesien ons van-voorouers (Le Roux en Malherbe) op dieselfde skip in 1688 uitgekom het en mekaar dus tóé reeds geken het.

Ek wil die bewering maak dat alle Afrikaners van ons kinders se ouderdomme met die “ou” (voor 1700 aangekom) vanne, bloedfamilie van mekaar is. Reeds op hierdie gespreklyn sien ek byvoorbeeld die vanne Nel, Bosman, Roux, le Roux en De Villiers wat in die vorige skrywers se lyne voorkom. My kinders is familie van almal van julle.

Christo Viljoen: Die kwessie van ondertrouery en bloedverwantskap is ingewikkeld. Dit is veral onder die Engelse en die Arabiese wette heeltemal wettig dat neef en niggie met mekaar mag trou. (In sommige state van die VSA en in baie ander lande is sulke huwelike ontoelaatbaar ingevolge die wet). ‘n Bekende voorbeeld van ondertrouery is die Britse koningshuis. Koningin Elizabeth II en haar eggenoot prins Philip het albei gemeenskaplike voorsate in Koningin Victoria sowel as koning Christian IX van Denemarke (waarvan meer vertel word by: http://en.wikipedia.org/wiki/Royal_intermarriage).

As jy gedink het jou en jou vrou se familieverwantskap is ingewikkeld, wees getroos dat die Britse koningshuis s’n veel meer ingewikkeld is.

As ‘n individu in sy eie voorsatestaat gedupliseerde voorsate het, word van kwartierstaatverlies gepraat. Ek weet nie of daar ‘n term is vir duplisering in egpare se onderskeie voorsatestate nie. Dat duplisering van voorsate in Suid-Afrika kan voorkom is heeltemal te verstane, gedagtig aan die klein poel van mense aan die Kaap drie eeue (plus) gelede.

Dieselfde is egter die geval met nasies wat nie deur grootskaalse immigrasie (soos in die geval van die Amerikaners) ontwikkel het nie. Die genepoel van veral eilandstate en ander geïsoleerde gemeenskappe is dikwels baie klein.

Bloedverwantskap (die Engelse term is “consanguinity”) verhoog natuurlik die risiko verbonde aan oorerflike siektes, soos wat die geval was met Alexis, die seun van die laaste Tsaar, Nicholas II, wat hemofilie geërf het van sy moeder Alexandra, ‘n kleindogter van koningin Victoria. Genetiese verwantskappe en resessiewe genetiese siektes is egter ‘n ingewikkelde saak, waarvan meer vertel word in die artikel “Erfenis van voorouergene” op GISA se webwerf by www.gisa.org.za/?ufsp=31.

Interessant is die gevolgtrekking wat in dié artikel gemaak word dat dit heel moontlik is dat ‘n nasaat van een of ander stamvader géén van sy gene besit nie. Dalk is jy en jou vrou derhalwe tog nie “familie” van mekaar nie.

Johan van Breda, Kaapstad: Ek het die gesprek (oor: Is jy en jou gade familie?) met belangstelling gevolg en die volgende stukkie oor ondertrouery aan die Kaap deur Samuel Hudson geskryf in 1803, opgediep.

Goewerneur Lt-genl Jan Willem Janssens wou met sy diensaanvaarding in 1803 van die voormalige sekunde Johannes Izaak Rhenius weet hoe hy die kolonie kon hervorm met moontlike aanduiding van wanpraktyke en korrupsie oor die algemeen van die inwoners. Hierop het Rhenius voorgestel dat vier van die vooraanstaande families aan die Kaap, Van Reenen, Cloete, Van Breda en Eksteen wortel en tak uitgeroei moet word, maar bygevoeg dat hulle deur ondertrouery met mekaar en ook met amper elke ander familie aan die Kaap almal familie van mekaar was en dus sou amper die hele kolonie verban moes word. Die goewerneur het die saak maar daar gelaat. BRON: Shell, Robert C.-H. Samuel Hudson on marriages and other customs at the Cape. Kronos vol. 15 (1989), p.49.

Japie Bosch, Johannesburg (links): het sy eie ervaring. Hy skryf:

Ek is my eie (sesde) neef, maar ons is een keer van mekaar verwyder. My suster is my suster, maar sy is ook my niggie, een keer verwyder.

Onsinnig? Nie rêrig nie.

In die genealogie hoor ‘n mens van byvoorbeeld: derde neefs, twee keer verwyder (third cousins, twice removed). Dit was die geval met my pa en ma. Hulle was vyfde neef en niggie, een keer verwyder.

Die saak staan só:

• Jean Labuschagne (1706 – 1753) en Gesina Steenkamp (1723 -- ) het onder meer twee seuns, Casper (voor 1746 – 1791) en Francois (voor 1753 -- ) gehad;
• My pa stam van Casper af -- hy is sewe geslagte later gebore;
• My ma stam van Francois af -- sy is ses geslagte later gebore;
• My pa en ma was dus neef en niggie, maar omdat sy een geslag voor my pa gebore is (vyfde) is, is hulle vyfde neef en niggie. Onthou, die eerste geslag was broers en die res daarna is eers neefs. Omdat my pa een geslag later gebore is, is hulle een keer (of een geslag) verwyder.
• Vandaar die begrip: vyfde neef en niggie, een keer verwyder.

Die diagram hieronder sit die situasie uiteen.


(Klik op diagram om te vergroot.)

By http://www.mjra.net/relationships-1 is 'n kaart waarmee 'n mens sulke verwantskappe kan bereken.

Kyk ook na: http://en.wikipedia.org/wiki/Cousin_chart

Die snaaksigheid (soos in ha-ha) is dat my naam, as hul seun, onder elkeen se naam kan verskyn. Dan is ek my eie neef, en niks anders nie as ‘n sesde neef, een keer verwyder.

In ons familie kan ons dié speletjie lekker speel. Ek, my broer, susters en ons kinders is dus almal neefs en niggies. Tong-in-die-kies natuurlik (selfs belaglik), maar teoreties-genealogies is dit waar. Soos ‘n oud-studente-vriend altyd gesê het: “Die boek reken só”.

My ouers is oorlede voordat ek die genealogie begin “pleeg” het. Hulle het nooit van hul verbintenis geweet nie. Ek kan my indink hoe ons hulle sou geterg het. Buiten voorgaande is die volgende ook waar: my pa en sy skoonpa was vierde neefs, twee keer verwyder; my ma en haar skoonpa was vyfde neefs.

Wat sou my oupas en oumas van die voorgenome huwelik gesê het as hulle van dié kwessie geweet het? Seker die huwelik verbied het. Oor die siektes wat kon "uitbroei".

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...