INTERESSANTHEDE UIT DIE e-SAGI (5)
DIE SPELLING VAN VANNE
DEUR LUCAS RINKEN
DEUR LUCAS RINKEN
Iets wat vir genealoë dikwels pynlik is, is die spel van vanne, veral omdat mense só gesteld daarop is oor hoe hul vanne presies gespel móét word.
Daar is allerhande stories wat aan die verskillende spellings gekoppel word -- die een spelling se mense was glo Nattes (die voormalige Nasionale Party) en die ander was glo Sappe (die voormalige Verenigde Party). Soms het die een spelling se mense glo aan hierdie kerk behoort en die ander spelling aan daardie kerk.
Nou wonder ek: watter van het die meeste verskillende spellings?
Dan praat ek nou nie van klein verskille soos met of sonder ‘n akuut nie, soos: Naudé versus Naude of Fouche versus Fouché. Daar is mense wat jou sal verkwalik as jy die akuut gebruik waar dit weggelaat moes word of weglaat waar dit moes wees. In die geval van Naudé word die stamvader aangegee as Jacob Naudé, seun van Philippe Naudé, dus met die akuut. Het dit later weggeval omdat dit te veel moeite was? In die geval van Fouche(é) word die stamvader ook aangegee as Fouché, maar sy vader was Bernard FOUCHER.
Een van die bekendste vanne in ons land is seker Van Wyk, of is dit Van Wijk of selfs Van Wijck. Selfs dit is klein verskilletjie.
Jy kry vanne met of sonder ‘n "s" aan die einde, soos Abraham en Abrahams, selfs Abrahamse, Abrahmse en Abrahamson. Ook Abraams. So ook Adam en Adams en Adamson. En Adriaan of Adriaans en Adriaanse. Selfs Adriaanz en Adriaanzen. Daar is ook Albert en Alberts of Albertse en Andrew en Andrews.
"F" of "ff"? Adendorf en Adendorff. Greef en Greeff. Groskopf en Grosskopff. Hoekom is die dorp in die Vrystaat se naam Boshof, maar die meeste mense met dié van is Boshoff? Wat van Hofman, Hoffman en Hoffmann?
Dit lei 'n mens na ander vanne met een “n” of twee - Ackerman of Ackermann. Anandale of Annandale. Ook een “l” of twee -- Nel en Nell. (My vrou se familie.)
Daar is vanne waar die klank dieselfde bly, maar die spelling verander, soos Agenbag, Agenbach of Aggenbach selfs Aggenbagh. Ook Ahlers en Allers. (Skoonma se familie.)
In Engels weer kry ‘n mens “IE”of “Y” -- Ainsley en Ainslie
In ander gevalle is patronieme oorgeneem om die kind se van aan te dui: Andersdatter of Andersdotter, Andersen, Anderson selfs Andersson, Jacobsen, Jacobson selfs Jacobsohn, Pietersz, Pietersen, Pieterson of Peterson. So ook Andriese, Andriessen en Andriesz.
In ander gevalle het die spelling volgens uitspraak verander.
- André GAUCH se nakomelinge het Gous geword;
- Jean MESNARD s’n het Minnaar geword;
- Daniel Hugot s’n het Hugo geword en
- Francois Retif s’n het Retief geword.
Ek mik nou na vanne wat heeltemal verander het. Die bekendste voorbeeld is seker dié van Guillaume le LIEVRE. SAG 3 stel dit so:
“De Haas” is ‘n letterlike vertaling van die Frans, “le Lievre”. Sy naam het aan die Kaap De Haas geword, maar soms het Le Lievre nog deurgeglip soos bv. in die opgawe van 1705”.
Ek kan my indink die ou Hollanders aan die Kaap het seker gesê: “Lievre, twak dis ‘n haas en jy is nou hier by ons de Haas”. Daar was ook ander met dié van wat wel van Nederland af gekom het.
Pretorius is nog ‘n voorbeeld. Dié verandering het plaasgevind voordat dié mense Kaap toe gekom het. Wessel Schout, was ‘n teologiese student in Leiden in 1636. Daar was dit mode onder die studente om mekaar op die Latynse ekwivalente van hul name te noem. Hy het so daarvan gehou dat hy sy naam verander het na Wesselius Praetorius en mettertyd het dit Pretorius geword. ("Praetorius is afgelei van die Latynse woord ‘Praetor’ wat vir die eerste keer in die ou Romeinse Ryk gebruik is om ‘n aanvoerder aan te dui." Uit: "PRETORIUS oor drie eeu" deur M.E. Pretorius)
Onthou ook dat die ou mense aan die Kaap grootliks ongeletterd was. My ouma, byvoorbeeld, het nooit skoolgegaan nie. Sy het net geleer om die Bybel te lees en om ‘n bietjie te kan skryf. Ek het nog van haar briewe sonder ‘n enkele hoofletter of leesteken. Hoe jou van gespel is, was dus hoe die predikant of skriba jou dit gehoor sê het wanneer daar gedoop, getrou of begrawe is.
Nou ‘n uitdaging aan enigeen: stuur aan my meer voorbeelde van verskillende spellings as wat in my eie van voorkom: ek het, REININGER, REINEGER, RENKE, RENEKE, RENECKE, RENNEKE, RENKEN, RENKIN, REINEKE, REYNECKE, RANKIN, RINKE, RINKIE, RINKEN.
No comments:
Post a Comment
Note: only a member of this blog may post a comment.