Thursday 19 July 2007

INTERESSANTHEDE UIT DIE e-SAGI (4)

DIE VROU WAT TWEE MANS AAN MOORD MOES AFSTAAN

DEUR LUCAS RINKEN

Magdalena Johanna (Lenie) de Wet, gebore "Zwartberg" op 30 Mei 1782 op Swellendam was inderdaad een van die martelare van haar tyd.

Sy het op 9 Augustus 1796 op Stellenbosch met Jan Christoffel Greyling, gebore 11 Maart 1778, getrou. Min is oor hom bekend. Die bietjie wat ‘n mens vind, is teenstrydig. SAG 2, (bladsy 543) verstrek die volgende: “Saam met landdros (Anders) Stockenström vermoor 31 Desember 1811”. Lees ‘n mens FA van Jaarsveld se “From Van Riebeeck to Vorster 1652 -- 1974”, kry ‘n mens die indruk dat dit in 1804 was. Die beste wat gevind is, was by die Stockenström webwerf by http://www.geocities.com/skildsoom/StockA.html. Daar word die moord soos volg beskryf:

“Op 27 Desember het kol. John Graham van Fintry vir Stockenström beveel om op Coerney by die res van die mag aan te sluit, waar kol. JG Cuyler (landdros van Uitenhage) in bevel was. Stokenström wat besef het dat dit die gebied benoorde die Suurberg aan aanvalle sou blootlê, het die saak met Graham gaan bespreek.

Teen sononder op 29 Desember 1811 het hy saam met 24 man uitgery. Sowat vyf uur later het hy ’n aantal Xhosa’s teëgekom. Hulle was van die Imidange-klan onder Kasa. Hulle het op Doringnek gestaan, die waterskeiding tussen die Wit- en Coerneyrivier op die Suurberg.

Stockenström het staatgemaak op sy gewildheid as vriend en weldoener van die koloniste en die inboorlinge. Hy het van sy perd afgeklim en die oorlogsparty ongewapen gaan ontmoet. Hy het ten minste ’n halfuur lank gepoog om Kasa te oorreed om sonder bloedvergieting na hul tuisland terug te keer. Toe hy teruggedraai het om op sy perd te klim, het die Imidange sy groep omsingel en hulle aangeval. Agt burgers en ’n tolk is doodgemaak. Vier is gewond, maar hulle het weggekom.

Hoe dit ookal sy, Magdalena de Wet se man is vermoor en sy moes alleen na hulle ses jong kinders, gebore tussen 1806 en 1812, omsien. Tydens die moord was sy sewe maande swanger. Haar jongste seun, Barend Christiaan, is op 8 Maart 1812 gebore. Met sy doop moes sy alleen voor die kansel staan.

Daarbenewens was haar tweede oudste seun, Petrus Jacobus, gebore 17 September 1801, blind, soos aangedui word in hul gesamentlike testament. Daarin is ‘n slaaf “present” aan hom bemaak om hom by te staan.

Daarna het Magdalena de Wet op 4 Julie 1814 te Graaff-Reinet met Pieter (Piet) Retief, die Voortrekkerleier getrou. Dis alombekend hoe hy op 6 Februarie 1838 saam met sy geselskap te kwaMatiwane in Natal vermoor is.

Piet Retief (links) was ‘n gerespekteerde leier en martelaar en niemand wil daaraan afbreek doen nie. Tog kry ‘n mens ‘n ander prentjie oor hom uit Henk de Wet boek “Familie de Wet -- 300 jaar”. Sy rustelose aard kom na vore uit die nie minder nie as 65 grondtransaksies wat hy aangegaan het. Hy en sy gesin het verskeie kere van woonplek verander. Hyself het dikwels van nering verander.

In Uitenhage was hy rantsoeneringsagent vir die leër. Hy was ook 'n meulenaar, 'n handelaar in graan en het begin met ‘n bakery en ‘n slaghuis. Intussen het hy as bou-aannemer opgetree. Met vandag se tegnologiese hulpmiddels sou dit seker nie te moeilik gewees het nie. In daardie dae moes dit vir Magdalena en hul 10 gesamentlike kinders baie moeilik gewees het.

Nie een van sy nerings was suksesvol nie. Hy is later gesekwestreer. Selfs sy spogplaas “Mooimeisiesfontein” met 6 000 wingerdstokke het onder die hammer gekom. Daarna het hy net £43/10/0 oorgehou.

Toe breek die Sesde Grensoorlog uit en Piet word as provinsiale veldkommandant aangestel. In die gevegte wat hierop gevolg het, was sy dapper stiefseuns aan die voorpunt. Jan Greyling is, nes sy vader, in ‘n hinderlaag vermoor.

Dit was nie die einde nie. Die moorde in Natal het Magdalena se familie nie vrygespring nie. Uiteindelik verloor sy altesame twee eggenotes, drie seuns (Jan en Abraham Greyling en Pieter Retief) asook haar skoonseun, Lucas Meyer.

Drie van haar kinders het klein gesterf, een dogter kon die geboorte van ‘n kind nie oorleef nie en ‘n tweede het as ‘n volwassene gesterf.

Uiteindelik het Magdalena na Potchefstroom verhuis waar die Volksraad in Junie 1852 haar ‘n maandelikse toelaag van 10 riksdalers aan haar toegeken het, weens “den armoedige toestand”. Dit was die enigste pensioen wat die Volksraad ooit toegeken het. Daar het sy as 70-jarige alleen as ‘n “eerwaardige deftige vrouw” geleef. Sy het haar inkomste aanvul deur onder meer fyngebak te verkoop.

Sy sterf in Potchefstroom op 31 Augustus 1855.

Voorwaar ‘n volksmoeder wat eer waardig is.

No comments:

Post a Comment

Note: only a member of this blog may post a comment.

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...