Thursday 05 July 2007

KORREKTHEID VAN BRONNE

Meegaande gesprek het vroeg in Junie 2007
op SA Genealogie plaasgevind.

Karel Marais, Wenen, Oostenryk: Hoe hanteer ‘n mense twee bronne het wat geheel en al verskil? My instink is om die een wat ek vertrou, dis 'n MOOC, te gebruik. Dit het net name en swak spelling, maar dit behoort mos meer akkuraat te wees as enige ander bron, of hoe? Die ander een is op 'n aanlyn-genealogiese webwerf en gee name, geboortedatums en in sommige gevalle selfs gades en kinders. Aangesien die persoon al in 1829 dood is, raak dit 'n hele rits goed in my stamregister. Hoe gemaak met die klomp mense wat ek nou nie meer kan koppel nie? Bêre ek hulle nou maar in my "Onbekende” Marais"-lêer en soek tot ek hulle kan koppel?

Alta Griffiths, Durbanville, Kaapstad: Sterftekennisse (SK) is nie altyd ‘n honderd persent korrek nie. My ondervinding is die volgende:
  • in baie gevalle word voorname omgedraai of verkort;
  • kinders se ouderdomme word geraai;
  • kindername word weggelaat;
  • 'n ma se nooiensvan word vergeet;
  • die name van die oorledene se ouers word vergeet.
Die korrektheid daarvan sal van die volgende afhang:
  • die kennis van die individu wat die SK ingevul het;
  • as ‘n persoon ‘n SK vir die eerste keer invul, weet hulle soms nie regtig wat se inligting van hulle verwag word nie;
  • dikwels is hulle in emosionele pyn wat ek glo ook hulle antwoorde beïnvloed;
  • laastens vind ek dat faktore soos familie-onenighede, geheime of erfporsies ook die volledigheid van ‘n SK kan beïnvloed.
Wat webwerwe betref, kan 'n mens sommer sien as die persoon hard gewerk het aan sy data. ‘n Goeie leidraad is as daar doopdatums, troudatums en foto's van verskeie takke van die familie teenwoordig is asook 'n ordentlike bronnelys. Probeer om die bronverwysings te kry op die webblad en volg die leidrade op.

Selfs as jy inligting van familielede gekry het, kan dit nie kwaad doen as jy dit slegs gebruik as 'n aanknopingspunt om jou navorsing op te baseer nie.

Ek het 'n tante met drie sterfdatums -- een datum volgens die dogter, ‘n ander een volgens die grafsteen en 'n derde een op die SK.

Herman Labuschagne, Johannesburg: Jou vraag is ’n goeie een vir selfs ervare navorsers. Ek hanteer konflikterende bronne op ’n minder algemene wyse. Ek beskou dit nie as my primêre taak om te besluit watter bron absoluut korrek is en watter een nie. Ek teken slegs getuienis op.

Elke bron: Dit beteken dat ek gewoonlik elke bron se data opteken soos ek dit vind. As ek later regtig met sekerheid kan vasstel wat die waarheid is, dan pas ek dit dienooreenkomstig aan, maar dan voel ek ‘n mens moet ’n paragraaf skryf om te verklaar hoekom jy die een bo die ander verkies. Omdat ‘n mens gewoonlik werk met honderde mense wat jy maar net in die verbygaan opteken, voel ek ’n navorser het nie die tyd om te sit en rangordes uitwerk nie. Dit is waarom ek liewers elke bron se feit wil opteken en dit oorlaat aan spesialiste ná my om te besluit wat is korrek en wat nie.

Datums: ’n Mens vind dikwels dat jy byvoorbeeld twee, drie of selfs vier verskillende geboortedatums vir dieselfde persoon ontdek, afhangende van die bronne waarmee jy werk. Sommige navorsers kies die datum wat vir hulle die oortuigendste lyk en ignoreer eenvoudig die ander. Sommiges kies ook die oortuigendste datum, maar bring iewers ’n nota aan wat melding maak van die konflikterende data. Ek respekteer elkeen se reg tot ’n eie metodiek, maar hierdie benadering maak nie vir my sin nie.

Legacy: Ek gebruik die Legacy genealogiese program, wat jou toelaat om meer as een datum in die datumveld te plaas. So byvoorbeeld lyk my voorouer, Frans Labuschagne, se geboortedatum so: Bef 22 Oct 1752 or 6 April 1749. Ek weet baie navorsers hou nie hiervan nie, maar dit maak vir my meer sin. Legacy stel jou in staat om aan elke feit ’n bronverwysing en vertouenswaarde toe te ken. So kan jy dan spesifiseer waar die twee feite vandaan kom en aan watter een jy meer waarde heg. Ek erken dat die funksie nie so effektief werk as wat ek dit sou wou gehad het nie. Die probleem is dat hierdie soort datumvelde blykbaar ‘n probleem kan meebring as ‘n mens data deel tussen twee verskillende genealogiese programme of gedcoms. Ek het besluit om maar verlief hiermee te neem.

Notas: Somtyds, as ek voel dat die datum meer verduideliking nodig het, voeg en dit eerder in die notaveld by. Die nadeel hiervan is net dat ek baie deel met ander navorsers. Dit is maar hoofsaaklik omdat die notavelde soms inligting bevat wat ek uit respek vir mense se privaatheid nie maklik deel nie. Op hierdie manier kan ander navorsers dus nie sien wanneer daar twyfel bestaan het oor ’n sekere feit nie.

Spelling: Die ander algemene verskynsel is waar ’n persoon verskillende name of spelvorme het. Ek beskou dit as belangrik dat elke variasie van ’n persoon se naam opgeteken moet word. So bv. het my oor-oupagrootjie sy eie naam soms gespel as Isaac, Izak of Izaak Hermanus . Hy en andere het die van soms as gespel as:

Labuschagne of Labuschagné of Labuschagnie of Labüschagnie.

Ek teken eenvoudig al die variasies op. Deur dit te doen voel ek ‘n mens ontwikkel ook ’n mate van begrip vir die taal- en spelontwikkeling wat deur ons families se vormingsjare plaasgevind het.

AKA of "also known as": Legacy het gelukkig ’n “AKA” of “also known as”-veld waar alternatiewe name, asook noemname en byname gevoeg kan word. Elke naam kan natuurlik aan ’n bepaalde bronverwysing gekoppel word sodat’n mens weet waar jy die feit vandaan gekry het. In verslae verskyn daar dus ’n lyntjie wat soos volg lees: “He was also known as Berend Labuschagne, Barend Labuschagne and Boet.” Weer eens ken ek navorsers wat glad nie daarvan hou om dit so te doen nie en wat volhou dat die AKA-name probleme veroorsaak met gedcoms. Dit mag wees. Vir my persoonlik voel dit net meer wetenskaplik om al die beskikbare feite op te teken en eers later op grond van die gewig van beskikbare getuienis te besluit watter een as primêr korrek beskou moet word.

Plekname: Daar ontstaan egter ’n probleem wanneer meer as een plek vir ’n geboorte, doop of sterfte opgeteken moet word. Ek dink die meeste sagteware maak ’n meester-inskrywing van elke pleknaam wat ingevoer word. As mens dus ’n geboortedatum invul wat lees: “Cradock of Graaff-Reinet” dan beskou die program dit as ’n plek waarvan die naam in der waarheid “Cradock of Graaff-Reinet” is. Dit is seker nie ’n krisis nie. Dit voel net vir my slordig en uit die oogpunt van databasis-korrektheid verkeerd. Ek teken dit soms so aan, maar ek hoop die sagteware ontwikkel eendag sover dat dit verskillende plektoekennings op dieselfde manier as AKA name kan akkommodeer.

Sover ek weet is daar min navorsers wat soos ek te werk gaan met die aanteken van alternatiewe feite. As daar ’n meer sinvolle metodiek is hoor ek graag daarvan.

No comments:

Post a Comment

Note: only a member of this blog may post a comment.

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...