Sunday 3 June 2007

KOMITEEVERGADERING VAN 12 MEI 2007

Die takkomitee het op 12 Mei 2007 in Roodepoort vergader.
John Stephens, die taksekretaris, berig.

Elektroniese Suid-Afrikaanse Genealogiese Indeks (e-SAGI)

Die komitee het sy dank betuig teenoor Lucas Rinken vir sy feitlik heeltydse werk aan dié projek. Richard Ford en Dennis Pretorius is bedank vir hul bydrae om die nuwe CD te skep.

Dié projek was voorheen bekend as die Rinken-De Wet-databasis. Die prys van die CD is van R100 na R120 verhoog, hoofsaaklik vanweë verhoogde produksiekoste.

Die omvang van die werk aan die projek het aansienlik vergroot. ‘n Beroep is op taklede gedoen om hulle vir dringende werk wat afgehandel moet word, beskikbaar te stel. Sodaniges kan Lucas bel by 011/760-3009.

Blog (webtuiste)

Die komitee het sy dank aan Japie Bosch ooregedra vir die skep en instandhouding hiervan. Japie het gemeld dat hy minstens een keer per week nuwe berigte op die blog sal plaas. Taklede is versoek om die blog se adres te bevorder. Dit is by www.westggsa.blogspot.com.

Lede is altyd baie welkom om bydraes te lewer en voorstelle te maak. Dit kan gestuur word aan: jrjbosch@telkomsa.net. Daar moet onthou word dat die Genootskap en veral die tak vir alle vlakke van genealoë voorsiening maak. Daarom hoef bydraes nie noodwendig lang artikels te wees nie. Enige betekenisvolle bydraes is welkom. Dit is 'n geleentheid vir taklede om mekaar te ondersteun -- een van die hoofdoelwitte van die tak.

Lede kan berigte wat hulle op papier wil hê, "copy" en "paste" in hul woordverwerker, soos WORD. Selfs die hele blog kan so gedruk word.

Die nuusbrief sal voorlopig nog per e-pos gestuur word. Dit sal uiteraard die berigte van die blog, met enkele wysigings, bevat. Die komitee sal weer hieroor besin.

100 Familie-webtuistes

Lucas Rinken het gemeld dat hy reeds meer as 100 familie-webtuistes se adresse op voorgaande ingevoer het. Dit kan gesien word by die GGSA se webtuiste.

Opleidingskursusse

Die tak het op 3 Februarie vanjaar ‘n opleidingkursus van drie ure lank vir beginners in Roodepoort aangebied. Dit was eweneens baie geslaagd. Sowat 25 mense het dit bygewoon.

Daar sal aanstaande jaar weer een gehou word. Daar is besluit om dit aan die Oos-Rand aan te bied, omdat die tak sowat 35 lede daar het.

Interssantshalwe: die koste was toe R50 per lid (R90 saam met 'n gade) en R75 vir nie-lede (R135 saam met 'n gade). Dit het 'n handleiding en verversings ingesluit. Die program het onder meer lesings ingesluit oor: werskwyses, ongepubliseerde bronne, internet bronne, amptelike bronne, wetenswaardighede en 'n aanbieding oor eie familiegeskiedenis. 'n Ware winskoop!

Iets om voor op die uitkyk te wees aanstaande jaar.

Finansies

Dennis Pretorius, voormalige tesourier, het die geldsake amptelik aan Kriek Fourie, die nuwe tesourier, oorhandig.

Ongelukkig is daar 'n klompie lede wat nog nie hul jaargeld betaal het nie. Kriek sal dit opvolg.

Biblioteek

Louise Dick, die bibliotekaresse, het tot nou die tak se biblioteek in haar huis gehuisves. Sy het verhuis en ‘n nuwe biblioteektuiste moet gevind word.

‘n Lys van boeke sal eersdaags op die blog verskyn.

Vraelys

‘n Vraelys is vroeër na lede gestuur waarin hulle hul voorkeure moes aandui met die oog op vergaderings/-aktiwiteite elke derde Saterdag van die maand. Lede se voorkeure (in volgorde) was soos volg:

1, British research (Reeds aangebied)
2. Transvaalse argief in Pretoria: (Ongelukkig is dit meer op Saterdae oop nie)
3. “Online Databases” (Reeds aangebied)
4. Besoek aan die Oorlogmuseum (Reeds plaasgevind)
5. ‘n Toer na Cullinan (Word ondersoek)
6. Begraafplaasoptekening. (Ferndale reeds opgeteken)
7. Begraafplaas-aantekening (Begraafplase: waar geleë)
8. Besoek aan die Vaaldriehoektak
9. Duitse Setlaars
10. 1820-Setlaars
11. Berlin Missionaries
12. De Wet-boek-skrywer

Skenking

Barbara Bouwer is bedank vir die skenking van breekware en eetgerei aan die tak vir gebruik met die bediening van verversings ná takvergaderings.

No comments:

Post a Comment

Note: only a member of this blog may post a comment.

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...