Wednesday 26 November 2008

ELEKTRONIESE TELEFOONGIDS BRING VREUGDE

Die genealoog (of persoonsopspoorder) moenie Telkom se elekroniese telefoongids gering skat nie. Dis ‘n waardevolle hulpmiddel.

Gister het ‘n merkwaardige verhaal bekend geword toe Sandra (fiktiewe naam), ‘n vooraanstaande sakevrou in die Oos-Kaap, vertel het hoe dié gids haar gehelp het om haar aangenome dogter se biologiese ouers, na ‘n soektog van baie jare, op te spoor.

Agtien jaar gelede het sy en haar man die baba, Marlene (fiktiewe naam), aangeneem. ‘n Klompie jare het Sandra Marlene belowe dat sy haar regtige ouers opgespoor sal hê teen die tyd as sy haar 18de verjaardag vier.

Die soektog was jare lank aan die gang. Sandra het onlangs nog ‘n beroepsopspoorder groot geld betaal om te help. Sy het nog nie weer van hom gehoor nie.

Intussen het Marlene se 18de verjaardag nader gekruip.

Sandra het weer deur al haar dokumentasie gegaan om opnuut leidrade te probeer vind. Daar was ‘n adres – in ‘n ander provinsie -- op een of ander dokument. Toe sy op ‘n keer daar was, was daar niemand en die bure het vertel die mense wat daar woon se van* kom nie ooreen met die van waarna sy soek nie.

Heelwat later en ná nog baie navrae het Sandra Marlene se biologiese ma se nooiensvan nagespeur. Dit was al. G’n name, voorletters of adres nie.

Verlede week – enkele dae ná Marlene se 18de verjaardag -- was Sandra bra bedruk. Daai belofte aan Marlene …

Toe onthou sy dat iemand haar van die elektroniese telefoongids vertel het. Met wanhoop was sy voor haar rekenaar op die internet. Sy het Marlene se ma se nooiensvan op die elektroniese telefoongids ingetik. Daar was ‘n raps meer as 100 van hulle in die land.

Noukeurig het Sandra hulle een vir een deurgekyk -- nie dat sy gedink het sy sou iets van waarde vind nie. Dit was nog ‘n dag, nog ‘n metode, nog ‘n probeerslag. Ná enkele minute kon sy nie glo wat sy voor gesien het nie. Langs een van diegene op die lys voor haar, was die einste adres waar sy tevore gaan soek het.

Sy het sonder aarseling gebel. Dit was Marlene se een ouma (haar biologiese ma se ma). Daar was baie trane en baie vreugde.

En Marlene weet nou waar sy vandaan kom. Boonop is die groot ontmoeting dié naweek.

Die eenvoud van die saak is dat Sandra vroeër die verkeerde van* by die regte adres gesoek het. Met nog een brokkie inligting wat bygekom het, het die elektroniese telefoongids die geheim ontrafel. Bygesê: Sandra was geduldig en vasberade. Sy het nooit moed opgegee nie. Haar woord teenoor Marlene het sy nagekom.

* Die verkeerde van was toe al die tyd die pa s’n van wie die ma intussen geskei is.

No comments:

Post a Comment

Note: only a member of this blog may post a comment.

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...