Monday 11 February 2008

NEDERLAND WIL HELP MET DIGITALISERING VAN VOC-ARGIEWE

In 'n koerantberig vanoggend (Maandag, 11 Februarie 2008) is 'n stukkie nuus versteek wat belangrik vir die genealogie is.


Ná 'n gesprek tussen mnr. Frans Timmermans, die Nederlandse adjunkminister van buitelandse sake, en dr. Pallo Jordan, Suid-Afrikaanse minister van kuns en kultuur, is ‘n verklaring uitgereik dat Nederland onder meer sal help met die digitalisering van die VOC-argiewe.


Timmermans het ook ‘n lansie vir Afrikaans by die Suid-Afrikaanse regering gebreek in woorde wat implisiete kritiek bevat.


Mnr. Frans Timmermans, die Nederlandse adjunkminister van buitelandse sake, was verlede week op ’n besoek van drie dae aan Suid-Afrika. Luidens ’n verklaring van die Nederlandse departement van buitelandse sake het Timmermans ook ’n gesprek met dr. Pallo Jordan, Suid-Afrikaanse minister van kuns en kultuur, gevoer.


Hy het toe gesê Nederland meen Afrikaans se posisie in Suid-Afrika moet verbeter word.


Hy het gesê daar moet weggekom word van die assosiëring van Afrikaans met apartheid. “In Suid-Afrika het daar, ná ’n pynlike geskiedenis, versoening plaasgevind, en die assosiasie van Afrikaans met politiek en onderdrukking moet verbreek word.


“Die taal behoort nie aan die apartheidsregime nie, maar aan verskillende bevolkingsgroepe. Afrikaans se rol as lingua franca van die Nederlanders, die Vlaminge, die Namibiërs en die Suid-Afrikaners is te min bekend.”


Jordan en Timmermans het luidens die verklaring ook ooreengekom om op verskeie ander kulturele terreine saam te werk.


Nederland het aangebied om te help met die bestryding van die onwettige handel in Afrika-kunswerke, die opleiding van museumkurators, die digitalisering van die VOC-argiewe en onderwaterargeologie. -- Beeld, 11 Fevruarie 2008.

No comments:

Post a Comment

Note: only a member of this blog may post a comment.

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...